No Image Caption

‘n Speellys vir die lewe

Yandi Du Plessis
“Eklekties” is seker die beste woord om my musieksmaak te beskryf. Disko, klassiek, klassieke rock, folk en byna alles in die middel. Trouens, dit sal vinniger gaan as ek die genres lys waarvan ek nié hou nie: jazz, country (jammer!), sokkiemusiek en dít wat mens gewoonlik in musiekblyspele sal hoor (behalwe The Lion King, natuurlik). Tog is daar ook ’n tyd, plek en konteks waarin dié musieksoorte gepas is.

Die jaar is besig om tot ’n einde te loop – die vakansieseisoen op ons voorstoep. Dit was ’n lang jaar, eintlik was die afgelope drie jaar baie lank! Die wêreld begin nou opstaan uit die puin van die Covid-pandemie, maar ons gaan die naskokke van die virus en gepaardgaande inperkings nog vir ’n geruime tyd voel – hetsy ekonomies of op ’n meer persoonlike vlak.

Ek is beslis nie die enigste een wat teen dié tyd redelik uitgebrand (ek wil amper sê vuisvoos) voel nie. Ons het tyd nodig om te ontspan, te herlaai en tyd saam met mense wat nié ons kollegas is nie, deur te bring. Ons het nog ’n ruk om te gaan voor Kersfees, al is die Kersversierings in Checkers al vir twee maande op! In dié stadium is dit normaal om net deur die normale bewegings te gaan en half op “autopilot” te funksioneer.

Ekself is definitief op daardie punt, en ek was reg om te sê ek sal ’n oogtand gee vir iets wat my gemoed sal lig en weer ’n gevoel van kinderlike opgewondenheid kan gee. En ek het dit gekry in die vorm van Spoegwolf se konsert die afgelope Saterdag. Dit het my teruggeneem na my studentejare en jool, beslis ’n eenvoudiger tyd. Saterdagaand se musiek was ongelooflik, die gehoor se gees aansteeklik en die band se energie op die verhoog absoluut meesleurend. Ek is al ’n geruime tyd ’n Spoegwolf-aanhanger, maar ek glo vas selfs al het ek nog nooit een van hulle liedjies gehoor nie, sou die naweek se konsert ’n spesiale ervaring wees. Dit het my net weer eens herinner watter impak musiek op ’n mens se gemoedstoestand kan hê.

As komplekse wesens uit uiteenlopende kulture, met uiteenlopende lewenservarings en geestelike en fisieke gesondheidsbehoeftes, is ons verbintenis met musiek baie persoonlik. Ons verhouding met musiek kan ’n baie mooi, kwesbare en dikwels ingewikkelde dans wees wat van oomblik tot oomblik verander op grond van ons bui, voorkeure, sosiale situasie en vorige ervarings. Daar is tye waar musiek ’n duidelike en onmiddellike impak op ons welstand kan hê.

Dink maar aan die oomlik in die gym wanneer jy dink jy kan nie meer verder gaan nie – tot jy daardie een liedjie speel wat jou optel en vorentoe druk (soos Eye of the Tiger in Rocky!). Of die ontspannende effek wat die “watervalmusiek” in die spa kan hê.

En natuurlik die nabyheid wat jy aan ander mense voel by ’n konsert of musiekfees.

Navorsing toon dat musiek ’n voordelige uitwerking op breinchemikalieë kan hê, soos dopamien, wat gekoppel is aan gevoelens van plesier, en oksitosien, die sogenaamde “liefdeshormoon”. En daar is matige bewyse dat musiek kan help om vlakke van die streshormoon kortisol te verlaag.

So, vir die laaste hekkie van die jaar, stel jou perfekte speellys saam, sit jou oorfone in en luister na jou gunsteling-goedvoelliedjies wanneer dinge by die werk te veel raak. Of speel dit kliphard in die gemak van jou eie huis en spring rond asof jy by ’n Spoegwolf-konsert is!

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!