’n Storie van ’n plaas in Afrika
René Hugo – Oom Fransie skuif sy stoel ongeduldig stoeplangs. Gewoonlik is hierdie sy rustig-word plek. Maar vandag is daar nie rus nie. Hy weet hy moet aan die telefoonoproep van gister dink. En die probleem waarmee hy heeldag rondloop, probeer oplos.
Maar die probleem laat hom te veel onthou... van daardie dag toe hulle op ’n wa van die plaas Vaalbank af wegry. Dáár waar hulle gesin van agt (grootouers, ouers en vier kinders) so gelukkig gelewe het. Agter hulle het die vlamme van die ou huis boontoe geskiet, asof die hele plaas om hulp roep. Toe het jong Fransie geweet dat alles nou anders sal wees.
Die nuwe woonplek in Bethulie-konsentrasiekamp was vreemd. Hulle moes in lang rye staan vir kos en medisyne. Niemand het geld gehad nie en al sewe lede van die gesin is ingedruk in ’n eenkamer-tent. Maar hulle was darem nog saam: Ouma, Oupa, Ma, twee sussies, Kleinboet en hyself.
Agt maande later was dit net Fransie en Kleinboet. En as hy vir Kleinboet kry waar hy op die grond lê met die sandjies wat die Vrystaatse wind teen sy klein lyfie opgewaai het, het die angs dat hy alleen gaan oorbly hom oorval.
Daar was darem ook nog Pa gewees – in ’n vreemde plek, die Broad Bottom Kamp in St. Helena. Fransie het geweet Pa sál hulle kom haal. Pa was mos die een wat alles kan doen.
Soms het Fransie ’n brief van Pa gekry. Meestal ’n mooi brief met gekleurde prentjies boaan en buite-op. Die briewe was eintlik vir Ma bedoel. In die laaste een was Pa juis bekommerd oor die kinders se skoolgaan. Hy was ook ongeduldig omdat hy niks van Ma hoor nie. Maar sy was toe mos al dood.
Toe Pa hulle uiteindelik kom haal, was hy anders as die sterk boer-soldaat wat Fransie geken het. En afwesig. Net so afwesig ná hy langs die vyf hopies sand in Bethulie se kerkhof gekniel het.
Hulle het tydelik by Ou Tannie (Pa se suster) gaan bly. Haar plaas was ook in die onder-Vrystaat, naby die afgebrande plaas wat hulle so goed geken het. Hulle het lekker gebly en na ’n ruk het die konsentrasiekamp en al sy hartseer vervaag. Fransie het weer begin glo in die goed van die lewe. Totdat hy eendag vir Pa gekry het waar hy onder die wilgerboom gelê het. Sy oë was oop, maar hy het nie meer gekyk nie. Toe het Fransie geweet hulle is nou weer net twee.
Baie mense het na Pa se begrafnis gekom. Die aand daarna kon Fransie nie slaap nie. Hy het toe maar opgestaan en op die stoep gaan sit. In die sitkamer het party van die groot mense nog gesels.
Fransie het gehoor een oom sê: “Vaalbank se huis is afgebrand, maar die lande is geil en daar is baie water. Mens kan daar goed boer. Maar wat nou van die kinders?”
En Ou Tannie se antwoord: “Gee die kinders elkeen vyf sjielings vir hulle plaas. Dis genoeg vir weeskinders.”
So het Fransie en Kleinboet in die weeshuis op Bethlehem beland. Hier het hulle geleer om saam te staan sodat albei sterker kon groei. En op 15 jaar het Fransie by goeie dierbare mense op ’n plaas in die Riemland begin werk. Eers as ’n arbeider, later as ’n bywoner en uiteindelik as ’n boer-om-’n-deel.
Toe het Fransie sy ware opvoeding gekry. Hy het geleer van plant en oes. Van melkbeeste en wolskape. Ook van dinge soos godsdiens, goeie maniere en respek vir sy medemense.
Vandag het Oom Fransie sy eie grond, ’n wonderlike vrou en twee pragtige kinders. Hy is gelukkig – die lewe het hom op ’n gelyk-pad gebring.
Maar nou is daar die telefoonoproep – wat die onthou en hartseer wakker gemaak het. Neef Johan se telefoonboodskap was: “Ou Tannie is sterwend. Maar sy sê sy kan nie gaan nie. Sy moet jou sien. Fransie, kan jy kom? Sy kry baie swaar.”
Toe die son sy laaste strale van die stoepie af wegtrek, skuif oom Fransie sy stoel weg. By die kombuisdeur roep hy: “Vrou maak reg, ons ry môre.”
Spreuke 23:10 – “Moenie weeskinders se grond by hulle probeer afvat nie. Die Een wat hulle beskerm, is magtig.”
– Gasskrywer
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie