Iréne-Mari van der Walt
Iréne-Mari van der Walt

’n Voet in beide wêrelde

Iréne-Mari van der Walt
Ryk mense was nog altyd my achilleshiel.

Dit is dalk die onskuldige verwagting dat die wêreld jou op sy hande sal dra, die geslote wêreld waarin net mense met fluweelsagte hare pas of die feit dat hulle sonder enige moeite alles kry wat hul hart begeer en waarvan ons net kan droom.

Soos ek ouer word, besef ek egter dat die raadsale en skemerkelkie-geleentheid waar skatryk mense hul verhoudings versterk, nie geslote is nie. Die deure staan wawyd oop – daar is net een stel trappe en sonder geld is dit moeilik om die piek te bereik.

Wêreldwyd word daar gekerm oor die top-1%, met slagspreuke soos “Eat the rich” wat op sosialemediaplatforms verskyn. Hoewel ek opgewonde is dat ’n filosoof soos Jean Jacques Rousseau se werk nou meer bekend is, voel ek hierdie sentiment ruk effens handuit.

Eerstens, glo ek elkeen is die protagonis van sy eie lewe – selfs sommige rykes. Almal probeer hul bes met die kaarte wat die lewe vir hulle uitgedeel het.

Kan Elon en Meta se ou Markie Warkie ’n bietjie meer bewus wees van wat om hulle aangaan en besef hulle kan manalleen hongersnood ’n nekslag toedien? Ja, is dit hulle skuld dat hulle te onnosel is om dit te besef? Miskien, ek weet nie.

As joernaliste kry ons die unieke geleentheid om met een voet in beide wêrelde te staan – vanmiddag sien jy die pyn en lyding van ’n gemeenskap sonder krag, water of die wete dat hulle sinkhuisie môre nog gaan staan. Dan gaan jy huis toe en trek jou hakskoentjies aan want vanaand moet jy ’n skemerkelkie-geleentheid bywoon.

Dit is moeilik om die mense wat deur die samelewing as antagoniste uitgebeeld word as mense te sien. Mense wie se wangetjies rooi raak ná die tweede of derde drankie. Mense wat lag en soms hulle sleutels laat val.

Miskien is dit ’n teken van die samelewing of dalk was Jean Jacques Rousseau reg toe hy gesê het wanneer die armes niks meer het om te eet nie, gaan hulle die rykes eet. Miskien het Jean Jacques Rousseau bygedra tot dit wat bekend staan as die “Tall Poppy Syndrome” – ek en jy ken dit as die uitdrukking “die hoogste bome kry die meeste wind”.

Al wat ek weet is dat die gesprekke met mense wie se wangetjies blink by skemerkelkie-aande my tot die gevolgtrekking laat kom het dat ons kan maak soos Rousseau gesê het. Maar dit sou nie regverdig teenoor die antagonis wees nie; hy sal nie verstaan hoekom hierdie lot hom getref het nie.

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer