Iréne-Mari van der Walt
Iréne-Mari van der Walt

’n Vriendelike herinnering aan bruide

Iréne-Mari van der Walt
Ek het nog altyd gelukkige huwelike vir my vriendinne toegewens.

Regte egte liefde wat minder Pride and Prejudice en meer Emma is. Troues het my egter nog nooit aangestaan nie. Ons almal trek ’n rok aan, wat ons waarskynlik by Woolies of Jet gekoop het toe die gelukkige paartjie nog hopeloos verlief was en nog net van trou gedroom het. Dan is daar die verbeeldinglose disse wat die spyseniers voorsit, voor ons eindelose geselsies aanknoop met mense wat ons nog net in die verbyloop gesien het.

Dit is veel lekkerder om die twee verliefdes in hul gewone drag agter ’n koppie koffie te sien – die arme siele is gewoonlik op hul troudag te senuweeagtig om enigiets meer as oor die weer te gesels.

Ek weet ek gaan waarskynlik nog my woorde sluk, maar as ek eendag trou, gaan ek almal brandstof spaar. Ek sal nadat ek en die arme siel – wat nou vir die res van sy lewe met my opgeskeep moet sit – in die hof getrou het sommer ’n boodskap aan almal stuur om die goeie nuus te deel.

Dit wil voorkom of mense deesdae trou asof dit uit die mode gaan. Hoewel ek opgewonde is dat ’n paar van my wonderlike vriendinne ’n lewensmaat gevind het, en dit saam met my wil vier, is ek nou deel van ’n nuwe groep vriendinne.

Die vriendinne wat vir ’n kombuistee, hennepartytjies en trougeskenke moet beplan.

Hier by ons is dit ’n geween en ’n gekners van tande en ek is doodseker daarvan dat ek al ’n paar uitlatings oor die bruide gehoor het, wat ek glo nie die werklikheid weerspieël nie.

Bruide, ons is lief vir julle, maar neem asseblief die finansies in ag. Kom ons almal gaan koop net vir ons ’n Streetwise 2 en gaan sit iewers in ’n parkie en hou piekniek. Sodoende spaar die bruidspaartjie hulself die troukostes en grys hare en die magdom gaste hoef nie hul bene in winkels korter te loop agter ’n trougeskenk aan nie.

Trougeskenke sal óf erfstukke word, óf dit sal binne die eerste twee jaar vergete wees. Ek maak eintlik maar staat op die feit dat myne dit nie verby die eerste jaar van die huwelik sal maak nie – om te probeer om ’n hou-en-onthou-stuk te koop, sal my mal maak.

Selfs die onlangse insident waarin ek my naam krater gemaak het op ’n WhatsApp-groep met ’n effens smaaklose grappie voor ’n hennepartytjie, waar die bruid se ma ook betrokke is, is nie vir my so pynlik soos die soeke na ’n trougeskenk nie. Ek kry die gevoel ek sal anders voel wanneer die trougeskenk eers gekoop is. Gelukkig het hierdie troue nie ’n Bridezilla nie – ongelukkig is sy in die minderheid.

Ek hou niks daarvan om geskenke te gee nie. Ek het al gehoor my geskenke het baie vir mense beteken, maar steeds kan jy my eerder lewend begrawe as om my te dwing om iemand – waarvoor ek omgee – in die oë te kyk wanneer hulle my geskenk oopmaak en sê: “Ah, wat’s dit?”

Hierdie is net ’n vriendelike herinnering aan bruide dat jou vriendinne steeds baie lief vir jou is – tot ná die troue. Hou asseblief net ’n ogie oor julle Bridezilla-nukke en onnodige onkostes wat die reeds sukkelende finansies nog ’n verdere knou gee.

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-02-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 33° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 19° | 30° Oshakati: 21° | 30° Ruacana: 19° | 27° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 18° | 32° Omaruru: 20° | 32° Windhoek: 19° | 29° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 18° | 22° Wind speed: 18km/h, Wind direction: S, Low tide: 14:54, High tide: 08:30, Low Tide: 02:00, High tide: 21:12 Swakopmund: 18° | 18° Wind speed: 22km/h, Wind direction: SW, Low tide: 14:52, High tide: 08:28, Low Tide: 02:00, High tide: 21:10 Walvis Bay: 18° | 23° Wind speed: 25km/h, Wind direction: SW, Low tide: 14:52, High tide: 08:27, Low Tide: 02:00, High tide: 21:09 Rehoboth: 19° | 30° Mariental: 21° | 33° Keetmanshoop: 20° | 33° Aranos: 23° | 34° Lüderitz: 17° | 32° Ariamsvlei: 22° | 33° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 21° | 35° Lubumbashi: 17° | 18° Mbabane: 19° | 25° Maseru: 16° | 23° Antananarivo: 18° | 22° Lilongwe: 17° | 28° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 19° | 29° Cape Town: 17° | 23° Durban: 20° | 23° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 26° Harare: 16° | 30° #VALUE! #VALUE!