René Hugo
René Hugo

Najaar – en die blare val. . .

René Hugo – Soos ek hier voor my venster sit, sien ek dat die bome besig is om hul blare te verloor, die gras word al hoe valer, en my entoesiasme vir die lewe begin kwyn. . . Ek hou nie van herfs nie!

Maar wie se skuld is dit? In die Griekse mitologie is daar ’n verhaal oor die ontstaan van herfs en winter. Soos alle mans maar is, het Hades, die grootbaas van die onderwêreld, vir die mooie Persephone gesien en haar begeer. Sy begeerte het oorgegaan in dade en hy het haar na sy koninkryk weggevoer.

Haar moeder, Demeter, die godin van oes en vrugbaarheid, was rasend van bekommernis. Sy het oral na haar dogter gesoek en ongelukkig tydens die soektog haar werk verwaarloos. Die wêreld het droog geraak en oeste het verdor. So het herfs en winter die beeld geword van ’n moeder se soeke na haar kind. . .

Nou weet ek mos hoekom ek nie van herfs hou nie! Maar ek moet toegee dat herfs soms positiewe punte het.

Dié seisoen word in die noordelike hemisfeer met vreugde begroet omdat die blare se verkleuring só spesiaal is. Die fantastiese kleure van geel, oranje, rooi en roes verander Europa en Amerika in ’n kleure-paradys. Saam met die herfslike kleure is daar die assosiasie met herfsgeure soos kaneel, kerrie en koljander. En dan soek mens na herfskosse: bredie, pampoentert, souskluitjies en sop. . .

Daar is ook interessante navorsing wat herfs vir sommige mense in ’n heel ander kategorie plaas.

In ’n artikel gepubliseer in die Journal of Aging Research verklaar die outeurs dat dit statisties bewys is dat alle babas wat in herfsmaande gebore is, meer geredelik 100 jaar oud sal word! Maar niks van hierdie positiewe punte verander my emosionele afkeur in die herfstyd nie. Ek hou nie daarvan om dinge te sien verdor nie, ek verdra nie wind wat al dwarrelend speel met dooie gras en blare nie, en ek verlang na groen!

Miskien sal ’n meer wetenskaplike studie van herfs my emosies verander? Kom ons probeer:

Gegrond op meteorologiese kennis kan ’n jaar in vier driemaande-eenhede verdeel word. Een hiervan, herfs, se aanvang hang saam met die equinox – wanneer die son direk in posisie bo die ewenaar is – en die dag en nag dus ewelank is. Sodra die dae dan korter en die nagte langer word, beleef ons herfs.

Korter dae lei tot minder lig en hitte en dit veroorsaak dat bome gereed maak vir die winter. Daar is min sonskyn, en ook minder chlorofil in die blare.

Die chlorofil word vervang deur ander chemikalieë soos karotenoïed – dieselfde stowwe wat wortels en die geel van eiers hulle kenmerkende kleur gee. En so raak ons omgewing geel en bruin. . . en vaal.

Maar soos gewoonlik bring Namibië vir my ’n beter uitkyk op die droefheid van herfs. In teenstelling met ander lande het ons hier slegs twee maande van herfs: April en Mei.

Om ons kalender nog meer atipies te maak volg Namibië se drie maande van winter daarna, dan een maand lente (September) en uiteindelik ’n volle ses maande van somer. Namibië, jy het my soort kalender!

Maar tog moet ek een herfs-ligpunt noem: VROEGHERFS deur N P van Wyk Louw:

“Die jaar word ryp in goue akkerblare

in wingerd wat verbruin, en witter lug

wat daglank van die nuwe wind en klare

son deurspoel word, elke blom word vrug.”



NS: MY APOLOGIE AAN APRIL 2025: VANJAAR HET ONS ’N DANKBARE GROEN HERFS!

– Gasskrywer

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer