No Image Caption

Namibië, die juweel wat ek my tuiste noem

Tanja Bause
Ek is geseënd om in Namibië te woon.

Namibië is sowaar die glimlag op Afrika se gesig en volgens my die ongelooflikste en asemrowendste land in die wêreld.

Ek, vriende en familie het langs die kus in die verre Noorde gaan kamp.

Soos wat ’n mens maar langs die viswaters doen, het ons ook vis gaan vang. My suster se jarelange droom om ’n groot haai te vang, is die vakansie bewaarheid toe sy binne ’n uur twee groot spotty’s uitgetrek het. Die vreugde op haar gesig en haar trotse stap het my ’n idee gegee.

Tussen die mense op die strand was my ma, my tannie, ’n vriendin se ma en ’n vriendin van Suid-Afrika. Almal vroue van ver oor die 50 wat nog nooit ’n vis – wat nog van ’n haai – gevang het nie.

Ons kom toe met die slim plan vorendag om die volgende haai ’n “familie-vrouehaai” te maak. Dit beteken ek hou die visstok vas en almal kry die geleentheid om die haai in te katrol. Net om te voel hoe hy ruk en pluk en bietjie hulle spiere te wys.

Die oomblik breek toe aan en vinnig was almal op hulle poste en hulle het beurte geneem om die haai uit die see te trek. Die foto wat agterna geneem is, spreek boekdele en die res van die dag kon hulle nie uitgepraat raak oor hoe hulle gehelp het om hulle eerste haai in te katrol nie.

Met breë borskasse en trots het hulle vir almal van die reusehaai vertel. Dit is waaroor familie en visvang gaan. Die trots wat mens voel, die huppel in jou stap en die saamwees – al was dit soos sommige sal sê net ’n haai.

Ek kan die ervaring egter nie as die hoogtepunt bestempel nie omdat daar nog so baie was.

Ons het vroegoggend alleen in die groen water van die Dooie See gedobber. Toe dit begin besig raak, het ons aangery en middagete in die woestyn geniet. Ons het in die woestyn op “Wys my jou lemoene” langarm gedans dat die stof so staan.

Die volgende dag het ons op ’n bootrit gegaan en nie net Namibiese koffie (Old Brown Sherry) en oesters geniet nie, ek het my eerste Mola Mola (sonvis) gesien. Die was my vyfde bootrit en elke keer hou ek duimvas vandat ons uit die hawe vaar totdat ons weer terug in die hawe is. Dié keer het dit gewerk en op pad terug toe sien ons hom rustig op die oppervlak lê en die son inneem.

Ons was so opgewonde dat ons die skipper gevra het of dit moontlik sal wees om te stop sodat ons in die water kan spring. Hy het ingestem en al drie van ons het met klere en al in die water gespring. Die toeriste het eers verstom gestaan en staar, toe klap hulle hande. Twee Franse seuns het ook ingespring. Volgens hulle ma was dit die hoogtepunt van hulle vakansie tot dusver.

Waar anders in die wêreld sal ’n skipper vir jou stop sodat jy kan gaan swem, jy in die stof helder oordag kan dans, in groen water dryf of saam met ystervroue ’n haai uittrek?

Ek is oortuig jy kan dit net in Namibië doen.

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!