No Image Caption

Net klein pakkies lewe

Sê maar net 30 jaar gelede
Des Erasmus
“Toe Bennie nog geleef het,” sê antie Anna nou die dag toe ek haar lughawe toe ry. Sê sy soos sy altyd sê.

”Toe Bennie nog geleef het, het ons hierdie pad gery toe hy oorlog toe is.”

“Hierdie pad, Antie?”

“Ja, dié pad. Ek ken hom. So ’n vyftig myl buite Windhoek is ’n hotel. Daar het ons altyd Sondae gaan eet. Soms was daar ’n orkes. Een ou onthou ek goed, omdat hy so mooi op die trompet kon blaas. Ek dink die plek was Aris.”

In daardie stadium het ons reeds aangestoot deur die meeste verleggings en omweë verby.

”Waar’s die boere dan?” vra sy. “Daar’s dit! Daar’s dit!

Die driffie hier op links. Een Sondag was ’n reëndag. Toe kan ons nie deur nie. Toe is ons terug hotel toe waar die man op die trompet speel. Bennie sou beter kon vertel. En daar’s hy. . .”

“Maar dis Kapps, my tannie.”

“Ek sê mos ek dink die plek se naam is Kapps Farm. Hoe het jy dan gehoor?”

Ek sê net ja. So blaai sy deur die vergeelde bladsye van herinnering met die ink wat plek-plek dof geword het. Amper soos deur ’n prenteboek met bleek foto’s omdat die lense swak geword het. Anna is tagtig jaar oud. Vir haar was dit net nog ’n Saterdag – een van ’n paar wat nog oorgebly het. Vir my was dit dié Saterdag.

Sommer met die oplaaislag het die beeld van die vrouefiguurtjie op my ingebrand. Die jare het haar ’n bietjie krom en klein gemaak. Seker daarom dat sy die mussie dra. Dit laat haar maklik daar in die gang in haar handsak met haar bietjie aartse goed kyk. Vingers wat eens hard kon werk, is deur die jare vervorm. Die vat bly stewig, byna klemmend, om ’n gerfie papier. Dis die vliegtuigkaartjie. En sommer los in daardie handsak dryf ’n R20-noot. Miskien is dit net om haar weg te koop waar sy nie alleen verder kan gaan nie. Dieper in ’n boepensbeursie is nog geld. Die kaartjie is ’n pakket van ’n ou instappas, vormpies oor wie en wat die moeë reisiger is en waarheen sy gaan.

“Marie het gesê alles is daar. Ek ken die goed nie, want Bennie het dit altyd gedoen toe hy nog gelewe het.”

So gee ek haar op die lughawe aan ’n vriendelike en hulpvaardige waardin af. En ek kyk die klein bondeltjie mens nog lank agterna wat daar tussen angs en hoop na ’n bekende, maar onsekere môre gaan.

Ja, net klein pakkies lewe. Dis pakkies vir ons jonger geslag om in sierpapier toe te draai en met blou lintjies te bind.

Die goed is so volop in lewenskrag, maar nogtans bly die mens te suinig om te gee, al is dit nie eens goeie erfgoed nie. Tog snaaks hoe geswoeg word om kinders groot te kry terwyl die kuns ons ontbreek om die lewensbeurt te sluit.

Een dag vat ek weer ’n oumens lughawe toe. – 11 Augustus 1992

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer