Nie net abrakadabra
Sê maar net 30 jaar gelede
Constant Smit – Dit verbaas my nog al die jare hoe mense ’n koerant aanvaar as iets wat net elke dag daar moet wees. En hulle verduur geen ongerief as die koerant nie op die regte tyd op die regte plek beskikbaar is nie.
Ek het gelukkig al vrede met al die lesers gemaak. Hulle is soos ’n boer wat dink omdat hy R5 se aandele in die koöperasie het, werk al die mense van die koöperasie vir hom. Met ’n koerant is dit dieselfde. Alle lesers dink omdat hulle die koerant koop en omdat ons oor mense skryf, behoort die koerant aan hulle en is ons ook hul werknemers.
Daarom mag hulle die telefoon enige tyd optel en jou uitvreet dat die see jou nie kan afwas nie as daar ’n ou klein foutjie in die koerant is, of as jy iets van sy pêl geskryf het waarvan hy nie hou nie.
Dit is veral hier waar ’n sportverslaggewer ’n nagmerrielewe het. Dit is mos so dat ’n sportman/vrou dink die son skyn uit sy/haar annerding en geen sportskrywer kan dit mos durf waag om iets oor hom/haar te skryf wat hom/haar nie ophemel nie.
Maar daar is tog tye wat dit knetter om ’n koerant op straat te kry. Neem nou maar net gister se koerant met sy 112 bladsye.
Enigeen wat gaan sit het met daardie koerant en ’n stukkie gedink het, sal besef hoeveel werk daarin gegaan het. En hoeveel kopsere daar was om dit betyds op straat te kry.
Maar nogtans het die telefoon weer gelui dat dit bars. Daar was die tante wat ontevrede is omdat die koerant so dik is, want die stukke val uit. Die ander was ongelukkig oor die feit dat al die bladsye nie opmekaar gevolg het nie.
Maar soos ’n lam ter slagting het ek maar net vertel hoe verskriklik jammer ek is.
En die mense daar buite kan dit maar glo. Ons koerantmense het ook ons probleme. Die mense dink mos ons sit net die heeldag op ons annerding en dink skinderstories uit en die res van die tyd sit ons op kafeestoepe en beskinder mense. En as daar nog tyd oor is, woon ons alle partytjies in die dorp by. En die beste van alles is, die bokke glo hierdie gemors. Dis hoekom die egskeidingsyfer in ons beroep ten hemele skreeu.
Die mooiste van my joppie is egter die telefoonstorie. Die kruis het my getref dat my huistelefoonnommer ook die koerant se ná ure-nommer is. En dis waar alles begin het. Van die tantes dink skynbaar ’n koerantman weet alles – ook van blokkiesraaisels.
Ek het nou al ’n kenner geword oor wanneer tydskrifte met die blokkiesraaisels in die kafees verskyn, want dan begin my telefoon enige tyd van die dag of nag te raas.
“Ou seun, help asseblief die tante gou met hierdie woordjie. Jy skryf mos baie en sal mos weet.” Vir iemand wat so mooi vra, kan jy mos nooit nee sê nie. Nou het ek al my vaste lys tantes in die dorp opgebou wat my elke Dinsdagaand bel om te help met die blokkiesraaisel. Skynbaar is dit toevallig ook die tyd wanneer die Huisgenoot by die Porra is.
Nou sal ek maar die geheim ook uitlap. Dit is nie ek wat so slim is nie. Uit die aard van my werk moet ek talle woordeboeke besit.
Dié koerantjoppie bly die lekkerste joppie op aarde. Dis net jammer talle bokke dink nie so nie en los ’n man bitter gou as hulle agterkom dat ’n koerantman nogal baie rondloop en uit die aard van sy werk ander bokke goed moet leer ken. En dan is daar natuurlik die sosiale verpligtinge van ’n koerantman waarvan sekere bokke nie baie hou nie...
– 4 Desember 1992
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie