René Hugo
René Hugo

Nog ’n tree

René Hugo

A charming euphemism for old age:" the third part of your life...”

(Lawrence Green)

Die mens gebruik feitlik sy hele lewensbestaan om “OP te tree”. Om treë vorentoe te gee, om nuwe dinge te doen, nuwe dinge te leer, nuwe ervarings te beleef. Dus om op of vorentoe te tree op die lewenspad.

Babas tree onmiddellik na geboorte baie vinnig op: van lê, na sit, na loop en hardloop. Alles binne die bestek van twee jaar! En jong kinders beweeg net so vinnig intellektueel op wanneer hulle leer lees, skryf en somme maak.

Die mens se volwasse-tydperk word weer deur ’n ander soort OP-trede gekenmerk: die wedywering met homself en met ander in sy werksomgewing.

Daagliks is jy deel van die beroepswedstryd: om so vinnig as moontlik op-stappies te gee ten einde gou (en verkieslik eerste) bó uit te kom. Jy leer dat dit lekker is om vaardig te wees in jou werk, dit stimulerend is om met werksgenote te deel en dit uitdagend is om in die werksomgewing op en vorentoe te tree.

Ná amper 'n driekwart-tyd van jou lewe in hierdie vorentoe-beweeg-proses, is dit dus nie vreemd dat die volgende fase in die mens se bestaan, die aftrede, dikwels met ongemak, onbeholpenheid en selfs hartseer of vrees betree word nie.

Om AF te tree, in teenstelling met OP-tree, is in stryd met dít wat ons vir ’n leeftyd lank gedoen het!

Aftrede voel derhalwe soos ’n vreemde donker pad na onder: vervelig, flou en sinneloos. ’n Pad sonder ’n winkende lig aan die einde. Die tyd van optrede, van strewe na bo, van soeke na nuwe en uitdagende dinge, is vir altyd verby. En in ’n sekere sin is dit asof die mens nou vir homself vreemd is. Skielik moet hy anders leer doen, anders dink en anders voel as wat hy die vorige 60 of 70 jaar lank al gedoen het.

Uit ’n ander hoek kan aftree-tyd meer positief gesien word as die mens se lewens-herftyd. Die groeityd van lente en die verweselikheidsfase van somer, gaan nou oor in die lewe se herfs.

Maar wat beteken hierdie herfs nou eintlik?

Herfs is dié seisoen wat die meeste deur digters en skrywers besing word. Vir hierdie woordkunstenaars is herfs die tyd van soel, kalm weer, van ’n buitewêreld omtower in die kleureprag van geel, oranje en rooi. En hulle onthou ook graag spesiale herfs-smake en geure soos borrie, kaneel en kerrie. So mymer die digter mos: “my ouma is in kaneel...”

En vir die afgetredene? Vir hom kan sy lewens-herf ’n tyd van vernuwing, stimulasie en uitdaging wees. Uitdagend? Wel, Henry Thoreau sien herfs as die seisoen waartydens: “the mature soul...has its autumnal victory over the loss of one’s springtime”. Só word aftrede ’n tyd van oorwinning!

Soos meeste ander ervarings in ons lewe, is hierdie ook ’n tydperk met sy eie uitdagings. Die verskil is dat herfs se uitdagings nie van ander mense en ander omgewings afhanklik is nie, maar grootliks bepaal word deur die afgetredene self. Die oorwinnende afgetredene kan dan iemand wees wat self besluit om: onbevange veranderinge tegemoet te gaan; onversadigbare intellektuele nuuskierigheid het; altyd intens belang te stel in groot dinge, en diep gelukkig is oor die klein dingetjies van die lewe.

Vir my het dit duidelik geword dat hoé ek aftree afhang van wat ek self met my herfstyd wil doen. Nou wil ek saam met Scott Fitzgerald die herfs van my lewe só beskryf: “Life starts all over again when it gets crisp in the fall...”

In hierdie sin word aftrede ’n wonderlike nuwe lewenstree...

Oppas herfs – hier kom ons!

– Gasskrywer

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!