Issaskar Kapuka
Issaskar Kapuka

Nuwe jaar, nuwe rigting

SMN 30 jaar gelede
Issaskar Kapuka – Net toe ek nou begin dink dat dinge genormaliseer het na al die feesvieringe van verlede maand en van die probleme wat ek verlede jaar ondervind het, het ek ’n onverwagte brief van ’n vriend gekry van wie se bestaan ek amper vergeet het.

Ek het iewers gelees dat sielkundiges sê mense wat skielik snaakse gedragspatrone toon, moet nie geïgnoreer word nie. Gee eerder gehoor aan hul probleme, vertel hulle ons.

Nie dat ek vir hom kwaad is omdat hy van dinge geskryf het wat ek graag nie wil hoor nie, maar tog het sy brief en nog ander dinge al my planne vir die jaar heel deurmekaar gekrap, net soos straatleeglêers dit doen.

Nou ja, vol hoop en goeie verwagtinge het ek die koevert oopgemaak. Die eerste sin was genoeg om my brein en verstand tot stilstand te bring.

Ek brand uit, my china, het hy gesê en bygevoeg dat al sy voornemens vir die nuwe jaar al iets van die verlede is.

Ek bel hom en probeer hom moed inpraat.

Ek sê toe vir hom dat die eerste maand van die jaar nie eens sy eerste helfte gehaal het nie. Byt vas, vriend, miskien kom dinge reg en moet nie oorhaastige besluite neem nie, want ek weet nou in dié lewe gebruik mense jou verstand, maar gee jou nie erkenning nie.

As die lewe iets was wat met geld gekoop kon word, sou net die rykes geleef het en die armes sou die lepel in die dak steek.

“How good is life?”

Dit bring my ook by die vele nuwejaarsvoornemens wat ook ek en verskeie mense gemaak het. Baie van hulle is na die maan.

’n Vriend en kollega besluit dat hy sy longe vanjaar gaan suiwer deur op te hou rook en dan sy lewer ’n kans te gee om te herstel. ’n Paar dae gelede vertel hy my dat hy raad by iemand gekry het dat ’n mens sekere gewoontes, hoe sleg ook al, nie skielik kan stopsit nie. Hy het toe besluit om dit maar liewers eers net te verminder. Hoe lank wonder ek, nét. ’n Ander het besluit dat hy harder en langer gaan werk, maar tog sluip hy vroeg huis toe.

Hoewel ek glo dat ek myself nie sal kan bedrieg nie en op dié wyse nie my eie besluite sal verloën nie, was daar sekere besluite wat ek ook geneem het. Een hiervan is dat ek my geldsake noukeurig gaan dophou, probeer om by ’n begroting te hou en nie kontantgeld doelloos in my broeksakke gaan dra nie.

Nog wat ek vra, is dat iets daadwerkliks gedoen word om van die leeglêers in die Windhoekse strate ontslae te raak. Vir my is dié jong mans wat onder die voorwendsel dat hulle artikels — horlosies en koerante — verkoop, ’n pyn. Dat hulle helderdag mense terroriseer en daarmee wegkom, is nou te erg vir die jaar in sy eerste weke. Ek sal vra dat iets aan hulle gedoen word, net soos dit die geval is met plakkers.

As ’n verbruiker en koper gaan ek ook voortaan my mond oopmaak om te kla oor sekere dinge en die behandeling wat ek by sekere winkels en sakemanne kry.

Om nie eens te praat van wat by vulstasies plaasvind nie. Dink net dat ek die volle bedrag moet betaal vir die hoeveelheid brandstof wat ek ingegooi het, terwyl ’n ander motorryer vra dat ’n kwitansie met ’n hoër bedrag aan hom uitgeskryf word omdat hy dit kwansuis wil terugeis. My voet! Ek en alle ander verbruikers behoort oor sulke dinge te kla.

’n Paar van my besluite het maar ook ’n vroeë dood gesterf en van hulle is nou soos versnipperde papier in ’n vullisblik!

So is die lewe maar ook. – 17 Januarie 1995

Kommentaar

Republikein 2025-01-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 28° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 19° | 35° Windhoek: 19° | 33° Gobabis: 21° | 34° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 19° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 19° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 20° | 37° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 24° | 27° Gaborone: 21° | 33° Lubumbashi: 16° | 22° Mbabane: 17° | 28° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 16° | 31° Lilongwe: 19° | 25° Maputo: 20° | 33° Windhoek: 19° | 33° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 29° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 17° | 27° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!