René Hugo
René Hugo

O, waar is ek?!!

René Hugo – Ek is rigtingbedons. En nee – ek vloek nie, want dit is die heilige waarheid!

My probleem is dat ek net een horende oor het. Toe ek so vyf jaar oud was, het die kindersiekte, pampoentjies, my getref. Een van die bekende nagevolge van die siekte is ’n totale verlies aan gehoor in een oor. So is die hoorbaarheid van my linkeroor geheel uitgewis.

Waarom is net een oor dan so belangrik? Weens die feit dat ’n mens twee ore het weet hy waar ’n geluid vandaan kom. Klank begin by die bron (bv. iemand wat praat) en kom dan eerste by die luisteraar se oor wat naaste aan die spreker is, aan. Gevolglik is die geluid in die eerste oor ook harder as in die tweede een. Deur die verskille in tyd en luidheid van die twee ore leer ’n mens – heeltemal onbewustelik! – waar klank vandaan kom.

Ek het nie hierdie vermoë nie. Dus as iemand met my praat, byvoorbeeld uit ’n ander kamer, weet ek glad nie waar die persoon is nie. So het ek al in die verlede heeltemal in ’n verkeerde rigting gehardloop as iemand benoud gil – en dikwels te laat aangekom om ’n katastrofe te verhoed.

My familie moes maar die beperking verlief aanvaar. En hulle het geleer om by ’n rigtingbedonsde mens aan te pas. Hoewel ook nie altyd nie. . . Manlief sal nog, ná 55 jaar se getroude lewe, vergeet om te sê: “Help!! Ek val!! Ek is op die stoep se dak!”

Daar is natuurlik ook voordele om ’n een-oor-mens te wees. So kan ek tydens die ergste elektriese storms rustig slaap deur met my oop-oor op die kussing te lê. En toe ons kinders klein was, kon ek (soms) daarmee wegkom om nie op hulle nagtelike geroep te reageer nie. Met my spesiale kopkussingplasing moes ’n moedelose Pa maar opstaan. . .

Ek het ook verskillende kompensasieprosesse aangeleer om my rigtingbedonsheid te hanteeer. Een van die belangrikste hiervan was om baie openlik oor die probleem te wees. So kan ek (meestal) verhoed om as ongeskik en/of hooghartig bestempel te word.

Een van die nadele van om net een oor te hê, is natuurlik dat mens ook baie sleg hoor in geraas. Dit was veral vir my ’n groot probleem tydens formele dinees waar tafelgeraas en agtergrondmusiek dit feitlik onmoontlik maak om die gespreksgenoot aan my dowe oor se kant te hoor. Ek het geleer om dit te hanteer deur openlik aan my arme tafelgenoot te verduidelik dat ek half doof is en hy moet maar verskoon as ek soms vra om iets te herhaal.

Mense was gewoonlik baie simpatiek en ek kon gou ontspan en die aand geniet.

Tot een aand. . . My nuwe vreemde tafelgenoot het dadelik begrip vir my probleem gehad en op my verduideliking gereageer met: “Dit moet baie moeilik wees. Bespeel jy enige musiekinstrumente?"

Ek (al niehorende) het egter die gewone vraag verwag: “Wat is die oorsaak van die gehoorprobleem?” Dus was my antwoord: “Ja, pampoentjies.”

Die arme man se stomme verbystering was erg en my verleentheid nog erger!

Een van my ander kompensasies vir rigtingbedonsheid was om altyd vreemde omgewings goed te leer ken. So weet ek redelik vinnig waar noord, suid, oos en wes is. En ek is ook ’n goeie kaartleser. Met ’n land,- pad- of stadskaart in my hand kan ek onmiddellik myself en al my reisgenote oriënteer.

Maar nou het ek, wat hierdie vaardigheid betref, ’n mededinger gekry. Haar naam is Gladys en haar van is GPS. Tot my verdriet het Manlief ’n voorkeur vir haar ontwikkel. Skielik is ek ’n tweedeklas-reisgenoot. Gladys daarenteen word vroegtydig oor reisplanne ingelig en saam met Manlief beplan hulle roetes, stilhouplekke en die lekkerste kampplekke.

Maar toemaar, ek is seker sy sal nie so alwetend in die Namibwoestyn wees nie. En dan sal hierdie rigtingbedonsde vrou weer die oorhand kry!

– Gasskrywer

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer