Oktober, die mooiste mooiste maand . . .
Pretoria word bestempel as die Jakarandastad, maar ons land se kroon-stad, Windhoek, hoef nie terug te staan nie.
Oral staan die Jakarandabome in delikate pers blommetjies getooi. Selfs die sypaadjies se legkaart-steentjies van lig grys of dele van die teerpaaie se loodgrys, word opgehelder met ’n feёtjie-ligte betowerende pers tapyt van Oktober-bloeisels. Jakarandas is kreatief-selektief versprei deur die stad en of hulle verdwerg word deur betonreuse of hoog uittroon bo ’n huis wat nog terugdateer uit ’n vorige eeu se boustyl, of ’n grasperk toe sambreel met koelte vir kinders om op te speel – hierdie bome word ráákgesien.
Waar in die vorige maande ongesiens saamgesmelt het in hul omgewing, jubel die jakarandas skielik in kleur so majestueus en vrolik en droomverlore dat mens se oё nie anders kán as om te verwyl op die prag nie.
Persprag wat adelikheid, geestelikheid en wysheid simboliseer. Die briljante helder, ongeёwenaarde pers skakering van jakarandabloeisels word daagliks gebruik om onvergeetlike skilderye te skilder. Die palet van pers lyk dromerig en vol belofte wanneer ’n jakarandaboom in sterk kontras afgeêts staan teen ’n bewolkte grys lug. En dan weer, reflekteer pers bloeisels die skoonblou van ’n somer hemelkoepel so treffend dat bloue en perse saamdans in ’n somersonnet van lof. Wanneer die sonsondergang gloed van goud en koperpienke die jakarandabome oorspoel met die laaste lig van die dag, dan word pers vermeng met ewigheidsgedagtes van genade en liefde onverdiend.
Vandag se Oktobergedagtes sal onvolledig wees sonder om die klassieke Afrikaanse gedig van C.Louis Leipoldt, Oktobermaand, in herinnering te roep. Laat my toe om hulde te bring aan hierdie digter deur dele van sy gedig weer eens uit die argiewe van ons gedagtes uit te haal en neer te sit op papier om te lees, te ervaar en te geniet. En dié wat nog nie die prag van hierdie gedig vantevore raakgeloop het nie – lees dit en besluit vir jouself . . .
Oktobermaand
Viooltjies in die voorhuis,
Viooltjies blou en rooi!
Viooltjies orals op die veld,
En orals, ai, so mooi!
Dit is die maand Oktober,
Die mooiste, mooiste maand:
Dan is die dag so helder,
So groen is elke aand,
So blou en sonder wolke
Die hemel heerlik bo,
So bomtuin-vol van kleure
Die asvaal ou Karoo.
En orals in die tuin rond ruik jy sering en roos.
Jasmyn en katjiepiering, lemoen en appelkoos.
Dit is die maand Oktober!
Ek dink die mense vier vir ewig
In die hemel Oktobermaand soos hier!
Wat wens jy meer as blomme, as helder dag en nag?
Wat kan jy beter, mooier of heerliker verwag?
Wat gee ek om die winter?
Wat praat jy nou van Mei?
Wat skeel dit as ons later weer donker dae kry?
Ek is nou in Oktober, die mooiste, mooiste maand,
Met elke dag so helder, so pragtig elke aand.
Ek nooi jou om verder te stap deur hierdie Oktobermaand en elke mooi oomblik vas te vat in jou gedagtes, dit te vier met jou emosies en ’n fees van kleur en geur te geniet met elk van jou sintuie.
Lééf voluit hierdie maand en skud af die vaal kleed van moeg wat deur werksdruk en lewensdruk kom vaskleef het aan jou siel.
Hang die Oktobermantel, lig en vol van pers prag om jou en stap so die laaste pylvak van die jaar binne. Geklee vir sukses, gekies vir oorvloed!
– Gasskrywer
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie