René Hugo
René Hugo

Om kook te geniet

René Hugo – Vandat ek myself ken, was my neus maar altyd in ’n boek. Sekerlik die beste werklikheidsontsnapping waarvan ek weet!

Een van die werklikheidseise waarmee ek my egter nooit vereenselwig het nie, was die van ’n kombuis/koskundige. Ek het wel in ’n huis grootgeword (soos al my tydgenote) waar ’n kombuis nie vreemd was nie. Ons het geleer dat meisiekinders hul ma in die kombuis moes help en moet weet hoe om te kook en te bak. Maar wie sê dit moet lekker wees. . .

In die stadium waar ek (uiteindelik!) toe getroud is, was die emansipasie van die vrou een van die werklikhede van die lewe.

Ons het geglimlag vir grappies soos: “Ek ondersteun my vrou volkome – en glo haar plek is in die kombuis. Sy moet so vinnig as moontlik na werk soontoe gaan.”

Niemand van my ouderdom het ooit opgewonde geraak oor nuwe kookgereedskap nie. En ’n voorskoot was die allerlaaste kledingstuk wat gekoop sou word.

Ek het wel met my kombuistee ’n Kook en Geniet van my Ma gekry. Voorin het sy geskryf: “Hierdie is ’n boek, lees dit in jou kombuis.”

Daar het Kook en Geniet toe stof versamel – totdat ek ’n eier moes kook. En ek nie geweet het hoe nie. Die dae van Google was nog ver in die toekoms, maar my oplossing was, soos altyd: kom ons kyk in ’n boek. So het Kook en Geniet uiteindelik deel van my lewe geword.

Een van my eerste kookboeke wat ek self gekoop het, was die I Hate to Cook Book van Peg Bracken. Die boekie het my geleer dat kook, bak, (en selfs onthaal), maar veral die lees daaroor, genotvol is. Net daar het die kookboekgogga my gebyt.

Deur kookboeke het ek ’n nuwe geskiedeniswêreld betree.

So is daar die huisvrou wat verantwoordelik was vir die eerste gepubliseerde kookboek in Suid Afrika – Hildagonda Duckitt van die plaas Groote Post naby Darling. In haar 1890-publikasie Where is it, motiveer sy haar resepteboek as volg: “In the rush of life, many women had not found time to copy their mothers.” Ek kan dié stelling goed verstaan!

En toe ontdek ek Leipoldt se Kos vir die Kenner, en Polfyntjies vir die Proe. Hoe was dit moontlik dat iemand oor dinge soos bobotie, roereiers, gebakte skaapboud of melktert kan skryf sodat jy dit kan proe terwyl jy lees?!

Leipoldt het die wonderwêreld van kos finaal vir my ontsluit. Hy skryf eenmaal ’n hele artikel oor die alledaagse aartappel en eindig so: "Gebakte aartappels smaak op sy lekkerste, in die buitelug, op 'n koue winteraand."

Ook hier plaaslik was daar spesiale ervarings met kosboeke. Die vergange Flamingo Kafee in Swakopmund, byvoorbeeld, het in reisverhale beroemdheid verwerf weens sy resep vir "Hasenpfeffer" (haaslendestukke, lank en sag gekook met rooiwyn, uie, en gerookte ham).

Later jare, toe ons begin reis het, was dit my grootste plesier om kookboeke van elke land aan te skaf. En ek het geleer om soos die Grieke “kleftiko” te maak, Ierse “babs”-ontbytbroodjies te bak, en "Mississippi mud pie" aan gaste voor te sit. Lawrence Green skryf: "Do not ignore the literature of the kitchen for it tells the story of the country.” Reg so!

Ná my aftrede, met dae wat leeg en vaal voor my gelê het, het ek weer na antwoorde in kookboeke gesoek. En toe besluit om met suurdeeg te probeer bak. Na ’n (wonderlike) tweejaarstryd met knie, rys, en bak weet ek nou dat daar nog baie jare van suurdeeg-leer is voordat ek hiérdie geheimenis sal oorwin.

Kookboeke leer jou van kos, kombuise, resepte, en veral van jouself. Maar ook van die wonder van mense rondom hierdie boeke.

So lees ek toevallig in die 1930-publikasie van Mev Slade se Afrikaanse Kookboek, dat vriendin Emmie se Pa voorin geskryf het: "Aan my vroutjie... om uit te vind waar die boek verkeerd is.” Wat ’n spesiale man! – Gasskrywer

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!