Tanja Bause
Tanja Bause

Om moed op te gee, is nie ’n opsie

Tanja Bause
Ek is ’n wintersbaba. Ek hou van die winter, en nee, dis nie omdat ek in die winter gebore is nie.

Dit is lekker om op ’n Sondag – wanneer ek nie werk nie – snoesig in die bed te kan lê met ’n boek en ’n koppie koffie met die katte onder die kombers, terwyl die ysbere buite in die swembad speel.

Dit is net nie dieselfde in die somer nie, want dit is eenvoudig te warm en dan wil ék in die swembad baljaar.

Ek kan lae klere in die winter aantrek en dit uittrek soos die dag warmer word. In die somer kan ek net tot op ’n punt uittrek voor ek moontlik in die moeilikheid kan beland.

Maar die weer soos dit tans is, is selfs vir my en veral my tuin net een te veel. Ek het al vir omtrent ses jaar ’n granaatboom in my tuin. Aan die begin wou hy nie groei nie, wat nog te sê van blomme en vrugte dra. Uiteindelik kon ek so drie jaar gelede my eerste twee babagranate oes.

Ek het verlede jaar opgelees en hulle sê wanneer daar net een boom in die omtrek is, moet jy self die blomme bestuif.

Ek het toe elke oggend en aand met ’n fyn verfkwas van blom tot blom geloop en ek kon nege groot granate oes. Vanjaar het ek klomp blomme geplant om bye te lok en ek het weer elke oggend en aand bytjie gespeel.

My boom het swaar begin dra aan al die blomme en die vrugte het begin vorm. Ek het al disse begin uitsoek en in my kop al die vrugte verwerk.

Sondagnag word ek met ’n reuseslag wakker en vensters wat klap. Die wind waai woes, die somerskombers is duidelik nie genoeg nie en al my katte staar my met groot oë aan en wil onder die kombers inkruip.

Dit is bitter koue en ek lê en hoop dat my bone, spinasie, beet, kappertjies en alles wat besig is om kop uit die grond te steek die koue sal oorleef. Ek was nie bekommerd oor die granate nie.

Die volgende dag het ek groot geskrik toe ek buite kom en sien die wind het die meeste van my blomme, babavrugte en takke verniel.

Ek het soveel moeite in my boom vanjaar ingesit – van die beste organiese kunsmis tot regte beesmis.

Elke blom is dubbeld – deur my en regte bye – bestuif. Alles het op ’n goeie oesjaar gedui en toe kom die wind en die koue weer.

Ek is regtig dankbaar ek is nie ’n boer nie, ek sou nie al die uitdagings kon verwerk nie en boere het baie meer probleme. Te min of te veel reën, sprinkane, wurms en brande en so kan ’n mens aangaan. Daar is so baie dinge wat verkeerd kan loop.

Ek waardeer van vooraf elke boer en haal my hoed af vir hulle; vir hulle deursettingsvermoë en hulle “om op te gee is nie ’n opsie nie”-houding.

Ek sal ook nie moed opgee nie. As die blomme wat dit oorleef het weer oopmaak en daar dalk nog nuwes kom, sal ek en die bytjies weer op ons pos wees en duim vashou. En dankbaar wees vir elke vrug wat geoes kan word. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!