Linda de Jager
Linda de Jager

Om ’n vakman te wees

Ek sê maar net 30 jaar gelede
Mandy Rittmann
Linda de Jager – Basil Coetzee agter sy saksofoon – ’n kers, ’n glas wyn – “and wilderness is paradise to me”.

Want soos Coetzee sy saks hanteer, sy gemak, sy ooglopende vaardigheid, weet jy: dis ’n vakman dié.

Die ou/meisie wat sy storie ken – of hy boompies plant of mense oopsny – skoon en reg werk en daarby van entoesiasme borrel – by diegene kan ’n mens sweer.

’n Mens onthou hulle goed, die vaardiges (waarvan jy nie noodwendig geweldig baie hou nie, juis omdat vaardigheid ’n tikkie verwaandheid vereis – ’n onfeilbare geloof in wat jy doen): die werker op my oom se plaas wat ’n perd kon inbreek met die gemak waarop laerskoolseuns jellievisse stukkend trap. Hy het hom so vasgegom aan sy perd, sonder ’n enkele senuweetrek, dat jy onwillekeurig agter die draad deur die tande staan en fluit.

Die apteker met wie jy ’n onderhoud voer wat nog êrens tussen sy presiese afmetinge soveel passie oorhou dat jy wonder of hy per abuis iets gesluk het.

Die Bonsaikweker wat jou onder haar boompies laat inbuig om vir jou die idee van ’n woud te laat kry en jou onverwags aansteek met haar konsentrasie.

Die moeë vragmotorbestuurder wat teen skemer op die langpad by jou verbyry en gesellig ligte flits, of die drawwer wat jy op ’n myl kan uitken – so fiks dat net gemak oorbly.

Dan is daar die minder konvensionele vakmanne: die een kennis wat as “womaniser” sy “kuns” so vervolmaak het dat hy met die oorspronklikste aanknopingsinne denkbaar vaal hennetjies laat skitter tot swane. En jou bitter dankbaar laat vir dié wat ook dié broodnodigheid met grasie bemeester het.

My een vriend kan weer ure in afgewaterde kroeë rondhang en eienaardige kunsies bemeester wat om vuurhoutjies, kaarte en muntstukke sentreer – maar hy doen dit goed én sekuur.

Ek onthou ’n meestervisvanger van Walvisbaai wat ’n lyn kan gooi soos ’n vuurpyl. . .

En die woorde van ’n sekere verwaande jong man bly my by. Hy het as japsnoet-resensent, ’n Shakespeare-produksie negatief geresenseer. ’n Stroom protesbriewe het gevolg, waaronder een van die regisseur self. Die resensent het kort en kripties gereageer – “as middelmatigheid geprys word en tot die norm verhef word, wat sal tog word?” Inderdaad!

Shawn Phillips met sy boel kitare en plek-plek onverteerbare massafilosofieë, het my een blywende idee meegegee. “Integriteit is konsentrasie op wat jy doen”. En dis tog mooi. . .

’n Kunsdosent vertel van die kind wat by hom klasse neem en tong tussen die lippe vasgeklem van konsentrasie ’n prent sit en verf. Dis spatsels kleur wat geen mens kop of stert van kan uitmaak nie.

“Wat is dit?” vra die dosent. “Dis blomme van onder af geteken,” kom die selfversekerde antwoord.

Hoop ek kry nog die kans vir harde handearbeid – om met ’n reusagtige trekker doringbome om te stoot onder ’n bottelblou hemel (die resultate is minstens konkreet). En as verbygangers verdwaas omkyk, twee beswete vingers eilandstyl die lug in te druk: “Vrede my broer!”

– 31 Augustus 1994

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-12-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 21° | 33° Oshakati: 21° | 32° Ruacana: 22° | 29° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 20° | 29° Omaruru: 24° | 33° Windhoek: 21° | 30° Gobabis: 19° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 23° Rehoboth: 24° | 33° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 16° | 26° Ariamsvlei: 26° | 38° Oranjemund: 16° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 31° Lilongwe: 20° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 21° | 30° Cape Town: 20° | 30° Durban: 19° | 27° Johannesburg: 16° | 25° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 30° Harare: 18° | 27° #REF! #REF!