Hester Steenkamp
Hester Steenkamp

Om te soen of nie te soen nie

Hester Steenkamp
“Kom Hestertjie! Kom groet die oom en tannie!”

Ek voel steeds die rilling teen my rug afhardloop as ek aan daardie woorde dink. Ek kan nie meer al die ooms en tannies onthou nie, maar ek onthou die groetery baie goed. En dit het glad nie saak gemaak hoe ver of lank jy probeer wegkruip het nie, die groetery moes een of ander tyd gebeur. En dit het. Klokslag. Die soen is gewoonlik opgevolg met: “Mapstieks! Jy het darem groot geword!”

Gelukkig sê hulle darem nie meer hierdie laaste deel nie, al dink hulle dit heel moontlik, net met ’n ander bedoeling. Met die verloop van tyd, nadat daar al baie water in die see geloop het en Hestertjie al Hes geword het, en die lewe in elke opsig denkbaar verander het, het die soenery dieselfde gebly.

Toe ons in die stad gewoon het, was dit minder van ’n bekommernis en beslommernis. Daar was die soenery uitsluitlik gebêre vir familie, maar nadat ons plaas toe getrek het, het ek agtergekom dis ’n tradisie wat nog baie gesond is in die platteland en wat tot op die nommer uitgevoer word. Dis hier waar ek geleer het dat jy twee soorte mense kry. Jy kry dié wat soen om te groet, en dan kry jy daardie’s wat groet om te soen. Dit is ’n hele ritueel. Wanneer jy by die kerk aankom, vorm die lidmate ’n tonneltjie van die hekkie af tot by die groot houtdeure. Jy moes maar deur die tonneltjie loop en elkeen ’n soen gee vir hallo. Jy weet later wat elkeen se manier is. Oom Gert gryp jou aan jou skouers en ruk jou nader. Hardhandig en oorgretig. Oom Karel leun van ver af in en plak die nat soen sekuur op jou lippe. Oom Ferdie sluit die soen met ’n stywe druk af. Te styf en te lank vir wat gepas voor die kerkdeure is, maar dit was maar sy manier, en ons het saamgespeel. En so soen-soen jy die hele gemeente deur tot jy verlig en effens lighoofdig die kerk instrompel. En dwarsdeur die diens sit en bekommer jy jou oor die tonneltjie na die tyd, want hier soen ons nie net vir hallo nie, ons soen ook vir koebaai.

Ek het gaan Google oor groet-rituele oor die wêreld heen. En nêrens was daar iets van ’n klapsoen op die mond nie. In elk geval nie op die top-10-lys wat ek onder oë gehad het nie.

In Maleisië sit jy jou hand op jou hart, in Tibet steek jy jou tong uit en in Zimbabwe klap jy hande. Enige een van hierdie sou vir my gewerk het. Dis mos nou baie beter as daardie nat soen wat jou uitasem laat. Dan is daar natuurlik die buig in Japan. Hoe groter die respek, hoe laer die buiging. Dit sal ook werk. Dis net Groenland wat my effens bekommerd maak, en ek oorweeg nog of dit werklik beter as ons soenery is. Daar druk jy jou neus en bo-lip teen die persoon se gesig, en snuif. Jy ruik die persoon. O nee, ek weet darem nou ook nie daarvan nie. Dit klink ongerymd en ongeskik, maar dis seker maar hoe tradisies werk. O, en in Yemen stamp hulle hul neuse teen mekaar. Ek is ook nog onseker oor hierdie soort van groetery.

Maar hoe dit ook al elders is, ons eie tradisie is die soen. ’n Groot, vet, nat een wat met oorgawe gegee word deur die ooms, en met stywe, vasknyplippies van die tannies af. Met Covid het hierdie tradisie vir ’n wyle ’n stille dood gesterf, maar so gou as wat die maskers afgehaal is, het die soen begin om weer sy waardige plek in te neem. Nes Lasarus is Die Soen uit die dood opgewek. So, juig al wat leef, ons gesoenery is terug.

– Gasskrywer

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!