No Image Caption

Om te stem of nie te stem nie

Iréne-Mari van der Walt
Terwyl almal se oë vasgenael was op die Suid-Afrikaanse verkiesing en die moontlike koalisieregerings wat in die toekoms in die buurland aan bewind kan kom, weet ek Mmusi Maimane sou my stem gekry het indien ek gekies het om te gaan stem.

Ek is nou spyt ek het nie, maar selfs al is ek spyt oor die feit dat ek nie my burgerlike reg as ’n Suid-Afrikaner uitgeoefen het nie, blyk dit tans vir my ek sal op 27 November weer spyt wees omdat ek ook nie my burgerlike reg as ’n Namibiër gaan uitoefen nie.

Die redes waarom ek nie aan die Suid-Afrikaanse verkiesing deelgeneem het nie en hoekom ek nie dink ek aan die Namibiese verkiesing gaan deelneem nie, verskil.

Ek weet waar ek my kruis vir Suid-Afrika sou trek, indien ek geglo het ek het die reg om my sê te sê oor ’n land waarin ek nie woon nie.

Ek het geen idee vir wie ek in die Namibiese verkiesings sou stem nie – want wat doen enige van ons opposisieleiers behalwe om op Swapo te skree?

Hoe weet ek of jy staan ​​vir dit waarvoor ek staan? Waarvoor staan ​​julle eintlik? As die antwoord “nie Swapo” is, het ek geen rede om te glo dat jou politiek oor die land en sy mense gaan nie. As jy net wil hê jy moet wen en Swapo moet verloor, dan beteken dit eenvoudig jy wil die mag wat Swapo tans het vir jouself hê.

Ek het geen rede om te dink jy sal jou magte enigsins beter gebruik as die huidige regering nie en as dit die geval is, moet ek die Engelsman aanhaal en sê, “better the devil you know than the devil you don’t”.

Hierdie is die einste rede hoekom ek nie in die laaste verkiesing gaan stem het nie.

Ek was opgewonde om te kon stem, want ek is uiters trots om ’n Namibiër te wees en kon nie wag om die grootste verantwoordelikheid wat ek teenoor hierdie land het, na te kom nie.

Daardie dag, net minder as vier jaar gelede, sou ek ’n volwaardige Namibiër word.

Ek het toe nie, want toe die tyd aanbreek om te registreer, was dit nie die moeite werd om ’n dag se werk te mis as ek in my murg en been geweet het ek gaan op die ou einde nie stem nie. Wie is daar dan om voor te stem?

Die huidige stand van sake is so goed soos ’n tweepartystelsel – jy stem Swapo of jy stem teen Swapo. Die een opposisieparty is so goed soos die ander – dit maak nie saak watter een jy kies nie, dit is alles dieselfde keuse.

Ek wonder wanneer laas het ons opposisieleiers hulself afgevra, nie wat hulle wil hê nie, maar hoekom hulle dit wil hê. Gaan dit nog vir hulle oor die mense en die land?

Toe ek besluit dat ek hierdie keer nie weer die kans om te stem gaan laat verbygaan nie, het ek besef ek moet solank begin om ’n keuse te maak en so het ek ’n lys van politieke partye in Namibië gaan opsoek.

Daar is 19 partye. Kan jy meer as vyf opnoem sonder om te gaan kyk? Ek het nie eens geweet van daardie partye bestaan nie, wat nog te sê van wat hulle politieke agenda is of wie hul presidensiële kandidate is?

En so, met gebrekkige inligting word daar van my verwag om te registreer sodat ek op 27 November by die stembus kan inbeweeg waar ek vir myself twee baie belangrike vrae gaan moet vra – Swapo of nie Swapo nie?. . . en wie de hêng is al hierdie ander ouens?

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!