Onderwysrubriek
Onderwysrubriek

Onderwys – Bestuur- en inligtingstelsels

Sanet Pearson
Mense, veral gesagspersone, soos nasionale politici, goewerneurs en streekpolitici sal gereeld na onderwysdata in hul toesprake verwys; veral as hulle die suksesse en behoeftes wil uitwys.

Gewoonlik om nasionale regerings te vra vir meer skole, meer onderwysers en ander geriewe. Die data wat hulle ontvang, moet egter akkuraat en relevant wees (en korrek gelees word) anders kan dit duplisering veroorsaak. Ek het onlangs ’n interessante artikel getiteld, “Teacher production, class size and learner population” (2022) deur Nic Spauli gelees. Dis ’n toekomsstudie waarin Spauli projekteer hoe die produksie van onderwysers beïnvloed sal word deur die groei van die leerlingpopulasie met die behoud of vermindering van die leerling-onderwyser-ratio. Om hierdie “som” te kan maak, moes hy ’n hele paar faktore in ag neem. Hierdie tipe artikels kan baie handig wees in die hande van politici en onderwysadministrateurs; dit wil sê as hulle oor die kennis en politieke wil beskik om daarvan gebruik te maak. Dit is ’n Suid-Afrikaanse studie en Spauli moes hom wend na die onderwysministerie daar se Opvoedkundige Bestuur- en Inligtingstelsels, algemeen bekend as die EMIS (Educational Management and Information Systems).

Die EMIS van enige onderwysministerie is uiters belangrik vir begrotings en toekomsbeplanning. Maar, dit vereis betroubare data oor leerling- en onderwyserpopulasies, skoolfasiliteite en ander relevante inligting. Politici en betrokke ministers behoort dit in ’n verteerbare vorm te kry om die regering behoorlik oor toekomstige behoeftes te adviseer. Die vraag is, wie is vir hierdie belangrike werk verantwoordelik, waar is hulle in die ministerie gelokaliseer en wat presies doen hulle? En, in hoe ’n mate word die streke en skole in Namibië hierby betrek? Die funksie van die EMIS in Zambië is die invordering en verbetering van inligting vir die kostedoeltreffende bestuur van bronne en die versterking van die implementering van onderwysbeleide. En, goedkoop is dit nie. In Zambië het dit van $13,973,991 in 2004 tot $26,473,991 in 2011 gestyg. In die meeste gevalle is Afrika-lande gehelp met befondsing en kundigheid.

Basies beskik ’n EMIS oor drie komponente, naamlik mense (personeel), tegnologie en prosesse. Eerstens moet dit die regte mense wees wat gemotiveerd is en oor die juiste vaardighede beskik om hierdie gevorderde werk te kan doen. Tweedens die regte prosesse om duplikasie te verminder en akkuraatheid te bevorder. En derdens, die korrekte tegnologie wat betroubaarheid verseker.

Die kern van die EMIS is in Windhoek by die ministerie geleë. Die streke en skole is die hoofrolspelers in die invordering van inligting. Na die verwerking van die data word dit vrygestel vir gebruik deur die ministerie, ander regeringsinstansies en die publiek. Die beskikbaarheid, akkuraatheid, betroubaarheid en verstaanbaarheid van die data is nie onderhandelbaar nie. Die verwerkte data is beskikbaar vir almal wat ’n behoefte daaraan het.

Data oor fasiliteite, onderwyser- en leerlingeienskappe is veral baie belangrik vir skole. Die streke behoort ook seker te maak dat die skoolrade vertroud is met al die inligting wat ingevorder word en hoe om dit tot voordeel van hul skole aan te wend.

Deur na die eienskappe van onderwysers by hul onderskeie skole te kyk, kan hulle seker maak dat die taal- en kultuureienskappe van die streek weerspieël word. Die groot tekortkoming tans is dat die EMIS-produksie nie oral bekend is en gebruik word nie. Dis jammer!

(Met vrug gebruik gemaak van Lessons Learned in Education Education Management Information systems deur Marcia Bernbaum, Ph.D. and Kurt Moses 2011)

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer