Onderwys – Die werklike taak van onderwys
Verlede week ontvang ek ’n boodskap van een van my oudleerlinge wat tans verbonde is aan die Universiteit Stellenbosch. Hierin deel hy my mee dat sy proefskrif aanvaar is en dat hy nou dr. Dawid Mouton is. Hy het nie gespog nie; hy weet dat ek sy akademiese vordering volg en ook baie trots op hom is. Hy was ’n presteerder op skool en seker die beste hoofseun tydens my verblyf as skoolhoof by die Suiderlig Hoërskool. Studies aan Unam is gevolg deur twee meestersgrade aan die universiteite van Kaapstad en Stellenbosch onderskeidelik.
Ná die verkryging van sy meesters in teologie het hy die VGK-gemeente van Heidedal as hulpleraar bedien en in 2015 is hy suksesvol deur die gemeente van die Verenigde Gereformeerde Kerk op Keetmanshoop beroep. Daarna het Stellenbosch hom as dosent aangestel, ’n geleentheid wat hom in staat sou stel om sy doktorsgraad te voltooi. Hy is uit eenvoudige en nederige omstandighede!
Dr. Mouton is een van die suksesvolles wat verbonde was aan ’n skool waar ek skoolhoof was. Ek ken Sanet Steenkamp, die uitvoerende direkteur van die onderwysministerie, sedert die vroeë tagtigerjare. Sy was ’n leerling aan die Lordsville Junior Sekondêre Skool en vandag lei sy die ministerie.
’n Ander leerling Gladys Pickering het ’n tyd gelede uit die pos van uitvoerende direkteur van justisie bedank en nou verneem ek dat sy op pad terug is. Nog een, Bennie Diergaardt, is die waarnemende administratiewe hoof van die ||Kharasstreek. Talle van my oudleerlinge is in goeie betrekkings in die openbare en privaat sektore.
Wanneer ek aan die suksesvolles herinner word, wonder ek wat die keuringsprosesse van die lewe is wat bepaal dat sommige so suksesvol is, ander minder suksesvol en ’n klein kohort op die mishoop van die lewe beland.
Ons weet dat die mens die eindproduk is van die samespel tussen aangebore eienskappe en omgewingsfakore. Ons weet ook dat ons gemeenskap deurspek is met ongelykhede. En, ons kan daarteen stry, maar ons sit met die vermoede dat die waarskynlikheid groot is dat die suksesvolles uit die hoë-inkomstegroep gaan kom. En, dan sien ons ook kinders trap in hul ouers en ander ouer familielede se voetspore. Dit sal baie moeilik wees om hierdie neiging in die agtergeblewe te bestudeer, siende dat die geleenthede so beperk was. Maar, die lewe is nie so voorspelbaar nie en kan vreemde draaie met ons loop. Baie kinders uit die hoë-inkomstegroepe bereik nie altyd die hoogste sport nie en beland ook op die mishope. Aan die anderkant vind ons dat mense uit die lae-inkomstegroepe en uiters haglike omstandighede die hoogste sport van die suksesleer bereik. Ons het min opvolgstudies (tracer studies) en berus ons maar op waarskynlikhede; maar ons wonder ook maar wat die graad van waarskynlikheid is!
Ek ken ’n bietjie sielkunde en weet bitter min van die sosiologie om al hierdie geheimenisse van die lewe te belig. Maar, ek weet dat die skool en spesifiek die onderwyser ’n bepalende rol in die toekoms van ons kinders kan speel. Ons stuur hulle skool toe omdat ons “iets” van hulle wil maak. Wat hierdie “iets” is, weet ons ook nie, maar dat ons hulle kan help om daardie “iets” te word, is gewis. Die skool is spesifiek daarvoor gerat en onderwysers word spesifiek vir die doel opgelei. Dit is daarom ons dure plig om ons onderwys- en skoolstelsel gereeld te evalueer, op te gradeer en verbeter om dit te kan doen.
(Ek dra hierdie rubriek op aan mnr. SC du Plessis, oudhoof van Karasburg Primêre Skool wat ons onlangs te ruste gelê het. Hy het kinders probeer help om daai “iets drome” te bewaarheid.)
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie