No Image Caption

Onderwys – Evaluering van skole

Sanet Pearson
Ek is aangenaam vandag [Maandag] verras deur ’n aankondiging van die Erongo Onderwysforum oor die Afrikaanse radiodiens.

In ’n toespraak maan die voorsitter van die forum onderwysers om nie toe te laat dat hulle gedrewendheid deur ’n salaris bepaal word nie.

Die onderwyswet bepaal dat elke streek oor sodanige forum moet beskik; dit het my opgewonde gemaak om te hoor daar is gemeenskappe wat nog insette langs hierdie weg kan lewer. Dit is veral goed om dit te verneem, veral in die lig daarvan dat die onderwysforum in die ||Kharasstreek slegs van historiese belang is.

Ten spyte van die relevante bepaling van die onderwyswet, is dit nou al etlike jare dat hierdie streek sonder ’n forum moet klaarkom. Maar dit eers daar gelaat!

Die tweede versoek van die voorsitter bring my by vandag se onderwerp, naamlik die evaluering van skole. Hy vra dat die streek/ministerie elke skool in die streek moet evalueer. Die relevansie van die versoek kan in die lig van die talle veranderinge oor die jare nie betwis word nie.

Talle beleidsveranderinge is aangebring wat kurrikula en skoolstruktuur beïnvloed het. Die meerderheid van primêre skole beskik nou oor voorskoolse programme, terwyl ’n leerling nou kan besluit of hy/sy die hoërskool aan die einde van graad 11 of -12 wil verlaat. En natuurlik noodsaak problematiek eie aan onderwys, derglike evaluerings.

Onderwysers is tans met protesaksie in Suid-Korea besig as gevolg van oorywerige en inmengerige skoolouers en ongedissiplineerde leerlinge.

Aanmatigende ouers het sover gegaan dat sommige onderwysers dit nie meer kon uitstaan nie. Daar word nou beweer dat selfdood onder ’n paar onderwysers die direkte gevolg hiervan is. Die Verenigde Koninkryk (VK) ervaar tans probleme wat verband hou met begrotings, behoud en werwing van onderwysers, verlore onderrigtyd tydens Covid, eksamens, leerlinge met sielkundige uitdagings en leierskap.

Natuurlik het Namibië se onderwysstelsel goeie tye beleef, maar dit sukkel ook maar met sy kwota probleme. Nou, om al hierdie gebreke te takel en wandade in die kiem te smoor, is strategiese planne nodig met dien verstande dat die gemeenskappe via skoolrade en streekonderwysforums betrek word.

Strategiese planne verskaf nodige rigting aan enige organisasie en sal onder andere probleme ondersoek wat verband hou met kostes, fokus, gemeenskapsprobleme en leerlingprestasie. Maar, strategiese planne is nie bedoel vir die rak nie. Dit moet gepaard gaan met ’n telkaart. Deur hierdie telkaart by te hou, kan ’n streek gereeld bepaal hoe daar op die pad, soos uitgelê deur die strategiese plan, gevorder word. Strategiese beplanning is buigbaar en aanpassings kan gemaak word wanneer nodig.

Dit bring my weer by die versoek van die voorsitter van die Erongo Onderwysforum. Alvorens daar met strategiese beplanning kan begin word, is dit belangrik om ’n evaluering van die skole in die streek te doen. So ’n evaluering sal onderwysadministrateurs help om skole op ’n rooster te plaas wat dan die sterk aspekte en uitdagings kan uitspel. ’n Prioriteitslys (op grond van hierdie evaluering) kan dan help om die roete van verbetering te bepaal.

Soos reeds gesê, sal die telkaart aandui hoe daar met die uitdagings gevorder word. En weer eens, strategiese beplanning is buigbaar; waar dit onmoontlik is om uitdagings te takel, kan doelwitte gewysig word of die bereiking daarvan langs ander roetes aangelê word.

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!