No Image Caption

Onderwys – Gebroke leierskap, gebroke gemeenskap

Sanet Pearson
Doeltreffende leierskap is diè een element waarsonder enige organisasie, insluitend onderwys, nie kan klaarkom nie.

Ek het al heelwat hieroor geskryf en die verskynsel vanuit verskillende hoeke bekyk. Ja, ons het goeie en bekwame leiers, maar ek volstaan met vorige gevolgtrekkings dat leierskap in ons onderwysstelsel, veral in ons skole, nog gebrekkig is. Van ons leiers is nog te twyfelend, te weifelend, te onkundig en nie braaf genoeg nie. Ander word gedryf deur politieke korrektheid. En, die visie is gebrekkig.

’n Vriend stuur vir my ’n preek van prof. Alan Boesak per WhatsApp. Die preekteks is uit Lukas 10 en dit handel oor die barmhartige Samaritaan. Boesak fokus op die Jericho-weg; ’n gevaarlike weg. So trek hy die idee na ons hedendaagse samelewing deur wat vol Jericho-paaie is; paaie van moord, korrupsie, geweld op vroue en kinders, statutêre verkragting en natuurlik ’n onderwysstelsel vol krankhede.

In die verhaal, so vertel Lukas, ignoreer die priesters en Leviete wat daar verbygaan, die man wat booswigte vir dood agtergelaat het. So ignoreer baie van ons hedendaagse leiers die pleidooi van die noodlydendes. Soos ’n destydse Nero wat die viool stryk terwyl Rome brand, sit president Ramaphosa by die Netbal-wêreldbekertoernooi in Kaapstad, terwyl die Moederstad aan die brand is.

Gister val my oog op die skrywe van Rainer Günzel in Republikein. Hierin verwys die outeur na armoede, mishandeling en wreedhede teenoor vroue en kinders, kindersterftes as gevolg van wanvoeding, die groeiende aantal straatkinders, korrupsie, vernietiging van die omgewing, die groeiende aantal weeskinders, terwyl die politici, kerkleiers en gemeenskapsleiers nog nie met ’n oplossing na vore kan kom nie. Hulle het eenvoudig nie een nie.

Hy verwys ook na die aanslag op die LGBTQ-gemeenskap deur Ekandjo en ander op grond van ’n verdraaide opvatting van wat ’n gesin is terwyl daar geen of afgewaterde besware uit kerkkringe kom.

Ons “priesters en Leviete” van vandag verkies om die “gesig” weg van die noodlydendes te draai. En net soos apartheid nog die skuld kry vir vandag se sosioëkonomiese probleme, net so word die Weste vir die “LBGTQ-verskynsel” en selfdegeslaghuwelike geblameer.

Onwillekeurig gaan my gedagtes ook na Jeremia in die Ou Testament waar God sy volk waarsku oor hulle verkeerde weë terwyl hulle onder die indruk verkeer dat hulle veilig in die tempel van die Here is. Jeremia kry opdrag om die volk te laat afsien van moord, egbreuk, diefstal, aflê van valse ede en die dien van afgode. Hulle beskutting – die tempel – het niks anders as ’n rowerspelonk geword nie. Dit het ’n Jericho-weg geword. En God maan sy volk om nie vreemdelinge in hulle poorte sowel as die weeskinders en weduwees leed aan te doen nie. God waarsku die volk dat hy hulle met tempel en al sal uitroei.

Vir menige lesers behoort hierdie samelewingsgebreke hulle slapelose nagte te gee. In die onderwys droom ons van die dag wanneer ons billikheid in ons skoolgemeenskap sal bereik. Daardie doelwit lyk tans soos ’n hersenskim. Sommige van ons kinders moet klaarkom met fasiliteite wat bestaan uit saamgeflansde tradisionele materiaal, geen behoorlike ablusiegeriewe nie, terwyl ver afstande afgelê moet word om in die klaskamer te kom.

Van ons leiers besef nie dat regverdigheid nie in die afwesigheid van billikheid bereik kan word nie. Ek onthou prof. Koopman van die Universiteit Stellenbosch wat gesê het: “Fairness takes us home to justice.”

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!