Onderwys - Geen rede vir hare om te waai
Die uitvoerende hoof van die onderwysministerie het die spreekwoordelike kat in die duiwehok losgelaat met haar opdrag aan staats- en privaatskole oor die haarstyle van leerlinge.
Op Facebook het dit, soos die sosialemediabeheptes sal sê, viral gegaan. Dit is egter verblydend om te sien dat skoolhoofde tot die gesprek toegetree het.
Dit is ondenkbaar dat enige skool behoorlik sonder ‘n stel goed gefundeerde reëls kan funksioneer. Die vraag is: aan wie word die taak toevertrou om dit op te stel, en hoe pas so ‘n stel reëls in by die breë raamwerk van die Onderwyswet en ander statute?
Die Onderwysersunie van Namibië (TUN) maan daar is belangriker sake as hare en haarstyle waaraan die ministerie tyd en energie kan bestee. Verder sê TUN: "There should be rules and regulations ... the school community, the parents, teachers and pupils (in high schools) are also mandated to come up with school rules". Ek dink die TUN maak dit duidelik waar die verantwoordelikheid lê.
Skoolreëls is ondergeskik aan die Grondwet en ander relevante wetgewing, insluitend die Onderwyswet. Skoolreëls is dus net afdwingbaar in soverre dit nie met "hoër" wetgewing bots nie. Soos TUN tereg sê, word die skoolgemeenskap, gelei deur die skoolraad en die skoolbestuur, met die opstel daarvan belas.
Alle ouers (ook voornemende ouers) moet in besit van die skoolreëls wees en dit spreek sonder mond dat so ‘n kind hom of haar moet neerlê by die reëls van die skool waar hy of sy ingeskryf word. Indien die reëls hom of haar nie aanstaan nie, is so ‘n leerling vry om by ‘n ander skool toelating te soek.
Terug na die haartstyle. Ons hare is verskillend; sommige glad (beesgelek soos my onderwyser sou sê), ander weer krullerig en ander het dalk “staalkuifies”. Sommige is tevrede met wat hulle ontvang het terwyl ander verskillende middele, pruike en haarstukke gebruik om hul voorkoms te verbeter. Sommige volg Amerikaanse en Europese style terwyl andere Afrika-style verkies.
Skoolreëls maak voorsiening vir kodes oor kleredrag en skole het dus seker ook die reg om te bepaal hoe haarstyle moet lyk. Verskillende kulture moet erken word, hoewel die skool seker die reg het om die lengte en dikte van hare voor te skryf. Seuns se hare moet tog ook netjies geskeer en gekam wees.
Maar dit bly van kardinale belang dat skoolreëls - en die toepassing daarvan nie met bestaande wetgewing bots nie. Die onderwyser wat 'n kind na bewering geslaan het, omdat hy of sy nie haarreëls gehoorsaam het nie, het in stryd met die beginsel opgetree.
Soms is dit inderdaad baie moeilik om in ooreenstemming met wetgewing op te tree.
In 1983 het kinders by die skool waar ek aaangestel was, gedurende die vakansie luis opgetel. Terug by die koshuis het die luise vinnig versprei na ander kinders. Ek het onmiddellik flenniedoeke en bloubottersalf aangekoop. Die matrones het die dogters se koppe met die salf behandel en met die wit doeke bedek. Die seuns se hare is geskeer en hul koppe ook met bloubottersalf gesmeer. So is die plaag besweer.
Streng volgens die wet en kinderregte was ek veronderstel om eers die ouers te raadpleeg en hulle uitdruklike toestemming te kry. Maar, baie van hierdie ouers was van Obib, Holoog, !Gabis, Ai-Ais, Ariamsvlei, Heirachabis (Namasvrede), Gürnau, Aroab, Koës, Gemsbokholte en elders. Selfone het nog nie bestaan nie en die meeste ouers het nie landlyne gehad nie. Hoe moes ek hulle in die hande kry?
Vandag kan sulke optrede die spreekwoordelike hare laat waai...
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie