Onderwys – Ingrypings in onderwys
Enige organisasie, hetsy dit staats-, privaat of ’n nieregeringsinstansie is, ervaar een of ander tyd ’n behoefte aan verandering of verbetering.
Ons leef in ’n veranderende wêreld en ons moet bybly. Hierdie uitdagings word ook ervaar in ons huishoudings en privaat lewens. Om uitdagings te identifiseer is nie juis ’n probleem nie; die probleem is om konsensus oor die wesenlikheid en aanspreekstrategie daarvan te bereik. Verder, dan vra ons mos altyd, of dit reg sal wees om beperkte bronne aan te wend om die nodige regstelling te maak.
’n Ander belangrike vraag is of die uitdaging sistemies of slegs beperk tot een area is? Dit sal ’n vermorsing van bronne wees as daar op die hele stelsel gefokus word terwyl die probleem eintlik gelokaliseerd is.
Hier het ons leiers en beplanners nodig wat nie net proaktief is nie, maar ook wat goed onderlê is in ontledings en strategiese beplanning. Daar bestaan ook ’n magdom van literatuur oor onderwys-ingrypings wat geraadpleeg kan word.
Baie ontwikkelende lande sukkel met toelating en skoolretensie. Kinders wat die voorgeskrewe ouderdom bereik, daag net nie op vir opname nie, terwyl baie ander die skool voortydig verlaat.
In baie gevalle het die lae toelating- en retensiekoerse ’n ekonomiese waarde vir die ouers. Baie kinders word by die huis gehou of uit die skool gehaal om met die boerdery en ander huishoudelike take te help.
Maar, daar is ook ’n reeks ander oorsake soos onder andere afstand tussen huis en skool, leerling- en onderwyser-afwesigheid, gebrek aan akkommodasie, skoolboelies en afknouery, swak skoolbeleid, onprofessionele en traak-my-nieagtige onderwysers en swak skoolbestuur.
Die owerhede is nie blind of doof hiervoor nie, vandaar die talle ingrypings wat al geïmplementeer is. Die staat ondersteun voordurend die sektor; dit voorsien die nodige onderrigruimtes sowel as handboeke en skryfbehoeftes. Geen skool mag meer ’n ouer verplig om tot ’n skoolontwikkelingsfonds by te dra nie (ek wonder soms oor hierdie een), terwyl dit by baie skole ’n voedingskema onderhou.
Daar is goeie redes hiervoor. Daar is al heelwat berig dat die verpligte skoolfonds en honger dempers plaas op skoolbywoning en uiteindelik tot voortydige skoolverlating lei. Die belangrike vraag is egter of al die ingrypings positief impakteer op skoolbywoning en veral op die onderrig en leerproses.
Maar, soms wil dit my voorkom asof die implementeringsbenadering nie holisties is nie. Daar moet ’n duidelike geskrewe beleid wees, die behoeftes moet lank voor die tyd vasgestel wees en aan al die rolspelers voorsien word. Die implementeringsprosesse moet duidelik uitgespel wees en die nodige fondse moet beskikbaar wees. En dan volg die nasorgproses wat uit kontrole en evaluering bestaan. As die onderwysowerhede die onderrig- en leerproses met handboeke ondersteun, dan moet seker gemaak word dat dit optimaal aangewend word.
’n Klompie jaar gelede is handboeke nie by skole in ons buurland afgelewer nie, ten spyte daarvan dat die fondse beskikbaar gestel is. ’n Skool is ook in ons buurland beplan, gebou en geopen; maar alles op papier. Geld wat getrou elke maand “betaal is” vir “ondersteuningsdienste en salarisse” het in die sakke van amptenare “en wie weet nog wie” beland.
Vandag [Maandag] lees ek in die koerant dat leerlinge by ’n skool in die Ohangwenastreek siek geword het nadat hulle die pap by die skool ge-ëet het. Die mieliemeel is blykbaar nie behoorlik gestoor of die pap is nie reg voorberei nie.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie