No Image Caption

Onderwys – Inklusiwiteit

Sanet Pearson
Een van die sleutel- en leidinggewende begrippe in ’n demokratiese bestaanswyse, is inklusiwiteit of insluiting.

Die Grondwet is in hoofstuk drie baie duidelik hieroor. Geen persoon mag uitgesluit word op grond van geslag, ras, velkleur, etniese oorsprong, geloofsbelydenis of sosiale of ekonomiese status nie. Almal wat in die apartheidsjare opgegroei het, is vertroud met die impak van uitsluiting op hul lewens. Wetgewing is geskryf, aangeneem en toegepas dat normale individuele, gesins- en gemeenskapslewe eenvoudig nie moontlik was nie.

Nou, wat beteken inklusiwiteit of insluiting presies. Dit beteken eenvoudig dat almal welkom is en gerespekteer en gewaardeer word; niemand word agter of in die koue gelaat nie. Dit is seker die sterkste pilaar waarop die demokrasie rus. Maar, die wispelturigheid waarmee daar deesdae met die begrip omgegaan word, maak my bietjie bekommerd.

Ek beskou die kerk steeds as een van die grootste bondgenote van onderwys. Toe die staat onwillig was om onderwys aan swart mense (lees almal nie-wit) te voorsien, het die kerk ingespring en dit met sy beperkte bronne gedoen. Die kerk het al die jare ouers en skole gehelp met die morele en sedelike onderbou van die karakters van kinders. Hierdie groot taak mag die kerk nooit versaak nie. Maar, uitsprake deur sommige denominasies en geestelikes is uiters verwarrend. Ek kan onthou dat die algemene sinode van die NG Kerk (AS), in navolging van ’n uitspraak van die Noord-Gautengse hof, ’n besluit geneem het om selfdegeslaghuwelike te voltrek. As ek reg onthou, het die AS dit aan individuele gemeentes oorgelaat om lede van die LGBTQ-gemeenskap tot kerkrade en op die kansel toe te laat. Die streeksinode van Namibië protesteer egter hierteen en die moontlikheid is dat laasgenoemde van die AS sal wegstap.

Die AS van die Verenigende Gereformeerde Kerk het reeds in 2018 besluit om gay huwelike te voltrek. ’n Geruime tyd voor dit, is besluit dat lede van die LGBTQ-gemeenskap op die kerkrade mag dien en die kansel mag betree. Die streeksinode van Namibië van die VGK het nou lynreg daarteen besluit. Die kansel en kerkrade is vir lede van die LBGTQ verbode terrein. Of dit ’n permanente besluit is en of die streeksinode hierdie besluitnemingsbevoegdheid het, dit weet ek nie.

Maar, ’n mens bly wonder of hierdie uitsluitingsmeganismes bybels geregverdig en kerkregtelik gegrond is.

Levitikus word in die reël as gronde geopper, maar dan word daar vergeet van die inklusiewe leer van Jesus; en ook van sy groot genade en liefde vir almal.

Cobus Swart en Dirk Human van die Universiteit van Pretoria kom tot die gevolgtrekking in hul navorsingstuk “Hoe bruikbaar is Levitikus 18 en 20 in die homoseksualiteitsdebat” dat die tekste nie in die hedendaagse teologiese debatte oor die onderwerp gebruik kan word om die oriëntasie van homoseksualiteit op hierdie bybelse gronde af te wys nie. Die tekste is ’n reaksie op probleme wat eie was aan die volk Israel. Dit kan en mag nie na vandag deurgetrek word nie.

Maar, waar laat dit die skool. Ons moet onthou dat skoolpopulasies bestaan uit lidmate en dooplidmate van hierdie afwysende dinominasies. Hoe verstaan hulle hierdie verdelende en uitsluitende besluite? Hoe moet onderwysers dit aan lidmate in die senior grade, katkisante en dooplidmate verduidelik? Die wrede werklikheid is dat onderwysers en leerlinge wat vermoedelik tot die LBGTQ-gemeenskap behoort, toenemend op skoolpersele aangerand en mishandel word.

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer