No Image Caption

Onderwys – Is inklusiwiteit die oplossing?

Sanet Pearson
Die mens fokus vir baie lank al op die uniekheid van die individu, gemeenskapsverskille en godsdienstige groeperinge.

In sommige lande, waarvan Indië ’n sprekende voorbeeld is, het dit gelei tot die ontwikkeling van sosiale kaste-stelsels. In Indië is oor die 3 000 kastes wat in sowat vyf samelewingslae ingedeel is. Heel bo is die Brahmins wat die priesters- en onderwysersklasse verteenwoordig. Die regeerders en militariste kom uit die Kshatrisyas, terwyl die Vaishaiyas die grondeienaars en handelaars verteenwoordig. Die Sudra lewer die arbeiders terwyl die Dalit of Harijan op die onderste trap van die leer is; hulle is die onaantasbares.

Die kaste-stelsel is al vir eeue in die Indiese DNS ingebed. Mahatma Mohandas Gandhi was van mening die onafhanklikheid van Indië sou nie moontlik wees sonder die erkenning van die menswaardigheid van die Dalit nie. Gandhi het na hulle verwys as die kinders van God.

In ons buurland, Suid-Afrika, het sosiale organisering ’n heel ander koers geloop. Voor die 1948-verkiesing was sosiale organisering hoofsaaklik gegrond op velkleur en etnisiteit; natuurlik met die meegaande diskriminasie, verontmensliking en miskenning van menseregte. Ná 1948 het die Nasionale Party wetgewing aangeneem wat die kompartementalisering netjies voltooi het. Die bevoordeling van sommige en die diskriminasie en onderdrukking van ander was nou net meer intens.

Hierdie trek van skeidslyne is vreemd in die lig van die meeste godsdienste wat heel iets anders predik. Die Christendom, met meer as 2,28 miljard volgelinge, leer in die Ou Testament van liefde wat ’n kernvereiste vir vreedsame naasbestaan is; jy moet jou naaste liefhê soos jouself, sê die tien gebooie. Binne die Christelike milieu, veral deur die Sending Organisasies, is geweldig groot bronne aangewend vir die bemarking en voorsiening van onderwys.

Formele onderwys is ook bygestaan deur die diensorganisasies van kerke met die opvoedingstaak. Die Kong Kerk (toe ek nog kind was) het jare gelede die Sondagskool, Band of Hope, Seuns en Dogters Brigades, die Jeugkoor en die Jeugorganisasie gehad.

In die NG Sendingkerk was daar ook die brigades en Kinderkrans terwyl die Jongwag en Bloukring tot die Rooms-Katolieke Kerk behoort het. Die seuns-verkenners (scouts) en dogters-gidse (girl guides) wat buite kerkverband is, het ook ’n belangrike bydrae gelewer.

Islam, aan die ander kant, beklemtoon eenheid. By die Madressa-klasse leer Moslem-kinders die waarhede van Islam en hoe om goeie Moslems te wees. En, dit is beslis nie om ekstreem te wees en om ander godsdienste te negeer of uit te wis nie!

Maar, steeds soek ons na ’n harmonieuse naasbestaan tussen individue, gesinne, families, gemeenskappe en lande. Ons bestaan word gekenmerk deur verdeeldheid, suspisie, marginalisering, diskriminasie, uitsluiting, vervolging en disrespek. Met ons beheptheid met vooruitgang (digitaal en andersins) dwing ons soms mense tot armoede en die bedelstaf. En dan, soos ek die ander dag verneem het, sukkel ons ook nog met godsdiensverdraagsaamheid.

Inklusiwiteit blyk die oplossing te wees; President Geingob het nou die ander dag in ’n toespraak ook daarvan gewag gemaak. Antwoorde het ek nie, maar kom ons sit die gesprek volgende week voort. (Geïnspireer deur ’n artikel getiteld Knowing Enough to Act: The Educational Implications of a Critical Social Justice Approach to Difference deur die Ikey Professor, Craine Soudien).

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!