No Image Caption

Onderwys – Korter werksweek

Voor die nywerheidsrevolusie was die mens se lewe taamlik rustig. Die seisoene en algemene weerpatrone het die landelike lewe gedryf. Onderwys was soort van “tuisonderrig” en kinders moes alles leer wat nodig was om in hierdie konteks ’n bestaan te kan maak.

Die nywerheidsrevolusie wat in 1740 aanvang geneem het, het hierdie rustige landelike lewe op sy kop gekeer. Vreemd, die meganisasie van die landbou het juis hierdie groot omwenteling aan die gang gekry. Dit het natuurlik ’n kragtige kettingreaksie tot gevolg gehad; die ontwikkeling van vervoer en groot masjinerie.

Grond, kapitaal en arbeid is nodig om vervaardiging en produksie aan die gang te kry. Die gevolg, ’n eksodus na stedelike gebiede; onderwys het natuurlik saamgetrek. Uitbuiting was aan die orde van die dag en van werkers (kinders inkluis) is verwag om 14 tot 16 uur per dag vir ses dae per week te werk.

Ek onthou nog die prentjies in ons geskiedenisboek van kinders met vuil gesiggies wat in die myne in Britanje gewerk het. Henry Ford het die vyfdagweek met agt ure per dag geïnisieer. Hierdie reëling is in die VSA en ander lande in wetgewing opgeneem. Daar is egter nog lande in die wêreld waar werkers verplig word om vir langer as 40 uur per week te werk. Voorbeelde hiervan is Mauratanië (54 uur), Egipte (53 uur) en Kenia (48 uur).

Dit is nou al lank dat sommige instansies (moontlik ook lande) hulle beywer vir ’n vierdagweek. Heelwat navorsing is al in hierdie verband gedoen. Volgens Republikein is die vierdag-werksweek gebaseer op ’n model ontwikkel deur Andrew Barnes en Charlotte Lockheart van Nieu-Seeland. In Suid-Afrika is daar tans besighede wat onder die leiding van die 4-Day Week SA aan navorsing deelneem. Die voorlopige resultate toon die volgende voordele: Werkers en bestuurders ervaar minder stres, die frekwensie van afwesigheid, bedankings en afdankings is baie laer, laer pendeluitgawes vir die werkers en beter uitkomste.

Maar, wat van onderwys. Die onderwysers is ook werkers en wat die ouers doen is bepalend vir die kinders. Net soos groot nywerhede het onderwys ook grond (vir skole en administrateurs se kantore), kapitaal en arbeid (onderwysers, werkers en administrateurs) nodig. Maar, net soos in die geval van nywerhede gebeur alles in die onderwys binne ’n tydsraamwerk.

Kurrikula is onder andere tydsgebonde; die aanvang en tydsduur van elke module/hoofstuk daarin vervat, word duidelik uiteengesit, en dit is nie onderhandelbaar nie. Alle daaglikse aktiwiteite van die skool moet binne ses ure gedoen word. En, ons weet met die talle onderbrekings en land afstande wat sommige kinders moet aflê om by die skool uit te kom, gaan baie tyd verlore.

Verder moet genoeg ruimte gelaat word vir buitemuurse aktiwiteite en besoeke van ander rolspelers. Dan moet ons onthou ons sal nog lank sukkel met die gevolge van die Covid-19-pandemie; veral die geweldige verlies aan onderrigtyd. Nog ’n probleem; die pelotonskole se middagsessie verloor reeds baie onderrig- en leertyd. Die impak sal hier erg gevoel word.

Alhoewel dit nie altyd so lyk nie, het ’n skool nogal ’n intensiewe program; veral die skole wat doeltreffend bestuur word. Indien onderwys die idee van die vierdag-werksweek koop, sal daar aan ander maniere gedink moet word om meer tyd te bekom.

Nee wat, as ek gevra word sal my antwoord ’n duidelike NEE wees. Ek dink die ministerie moet eerder daaraan dink om skooltyd te vermeerder. En, wat van ’n ekstra drie of vier uur op ’n Saterdagoggend? Vra maar net!

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!