Onderwys – M.A. Kusch
Onderwys, as die moeder van alle professies, het mans en vroue van formaat opgelewer. Me. M.A. Kusch (Juffrou Kusch) was een van die grotes van die Suide. Juffrou Kusch het die eerste lewenslig op die plaas Oosterode, êrens tussen Stampriet en Witkrans, in 1943 aanskou. Sy voltooi haar hoërskoolloopbaan aan die Holy Rosary Katolieke skool in Cradock, Suid-Afrika.
Sy vertel nie veel van haar aanvanklike onderwysopleiding nie, maar ek vermoed dat dit moontlik by die Katolieke opleidingskool in Parow was. Later behaal sy ’n diploma in biblioteekkunde asook ’n BA-graad aan die Universiteit van Suid-Afrika.
Sy neem haar eerste tree in die onderwys as skoolhoof van ’n eenmanskool op Tses in die Suide. Die geboutjie was maar gehawend; die mure was vol gate. Die seuns wat sy opdrag gegee het om materiaal te kry om die gate toe te stop, het nie baie sukses daarmee gehad nie; die voormalige minister, wyle Willem Konjore en Simon Stephanus is goed uitgetrap. Hierdie skooltjie, die fondasie van onderwys in Tses, het begin met 17 graad 9-leerlinge. Die geboutjie is vervang met ’n klipgebou met vier klaskamers en is op aandrang van Vader Minder, St Theresa gedoop. Die personeel het nou stadig uitgebrei. Twee ongekwalifiseerde onderwysers is aangestel; eerste mnr. Phillip Kariseb en ná hom in 1966 ’n mnr. Paul Block. In 1967 is mnr. Petrus Kirsten van Lüderitz aangestel. Hierdie onderwyser wat eintlik ’n Katolieke priester wou word, was Latyns magtig; hier het hy uitstekende werk gedoen. Die skool se uitslae in Engels en Latyn was uitstekend.
Verwikkelinge op Keetmanshoop het gesorg vir me. Kusch se vertrek uit Tses. Die Katolieke Middelbare Skool se hoof mnr. A.B. Hammond, het bedank om ’n pos in Windhoek op te neem. Juffrou Kusch, met mev. Pansegrouw aan haar sy, sou dit voortaan beman. Op haar aandrang is die naam verander na St Aquinas; St Thomas van Aquinas was die naam van die koshuis in Cradock. Die begin jare hier was maar moeilik. Sy moes ver stap skool toe en haar salaris was ’n skrale 100 rand per maand. Sy kon later wel vir haar ’n Zephyr Six koop en een van haar leerlinge, Augustinus Mungunda, het haar leer bestuur.
Juffrou Kusch het vinnig besef dat baie probleme vinniger aangespreek en opgelos kon word as die skool deur die staat gesubsidieer kon word. Sy het op die pen geval en nie lank daar nie en op 1 September 1969, is bevestig dat die skool kwalifiseer om deur die staat gesubsidieer te word. Dit het natuurlik beter fasiliteite en beter salarissse beteken. Onder haar het St Aquinas vinnig uit sy nate gebars en sy het weer op die pen geval; hierdie keer Kaapstad toe. Die owerhede het gehoor gegee en op 14 Julie 1971 het die nuwe Hoërskool Suiderlig sy deure geopen. Hierdie skool was werklik die lig van die Suide; die matriekuitslae in die sewentigerjare was besonders goed; veral die van 1975. Haar loopbaan het hierna gefloreer; van vakadviseur vir skoolbiblioteke in 1977 tot senior onderwysbeampte tot en met haar uittrede in 2003. Terwyl sy in hierdie pos was moes sy lang afstande aflê om by skole uit te kom. Een keer het sy ’n papwiel gekry tussen Windhoek en Gobabis en kyk wie daag op om te help; ons einste Jan Spies, bobaas-storieverteller. Sy is steeds besig met die gemeenskapswerk van die Katolieke kerk. O ja, sy het nou die dag 80 geword. Juffrou, as een van u opvolgers by Hoërskool Suiderlig, sê ek vir u baie dankie vir die besondere voorbeeld wat u gestel het. Die Here se seën en mooi loop.
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie