Onderwys – Model vir verbetering
Die minister van onderwys het nou die ander dag in die openbaar erken dat onderwys in Namibië sedert 2015 agteruit boer. Om so ’n erkenning (of moet ek eerder sê bekentenis) oor jou eie ministerie te maak, verg nogal baie moed. Wat my tot kommer stem, is dat die ministerie, gegewe sy geweldige breinkrag, nie die beweging kan stop of daadwerklike pogings aanwend om dit te stop nie. 84% van die 18 566 onderwysers (2019 EMIS-data) beskik oor ’n graad 12 plus twee of meer jare tersiêre opleiding. Die meeste van die personeellede wat betrokke is by die ontwikkeling van beleid, skoolkurrikula asook die implementering en monitering daarvan op nasionale en streekvlak, beskik ten minste oor ’n meestersgraad. Wat verhoed die ministerie dan om die agteruitgang te stop?
Elke land het sy eie unieke eienskappe wat vir die dryfvere sorg vir sosioëkonomiese ontwikkeling. Dit is nie altyd regverdig om die een land met ’n ander te vergelyk nie; tog kan een land wel baie van ’n ander leer. Singapoer wat uit ’n stadstaat en ’n klompie eilande bestaan, is ’n baie klein landjie waarvan mense maar gerus kennis kan neem. Die land is slegs 720 vierkante kilometer groot waarvan slegs 1% vir landboukundige doeleindes aangewend kan word. 90% van voedsel word ingevoer terwyl vis volop is. Aan die basis van die ekonomie is ’n sterk vervaardigingsektor (elektronika en chemikalieë), finansiële dienste, versekering, vervoer, inligting- en sakedienste, en bergings- en kommunikasiedienste. Verder is die land geleë op die besigste maritieme weg tussen die weste en suidooste; hiervan maak sy terdeë gebruik. Singapoer bestee sowat 2,81% van sy bruto binnelandse produk (GDP) aan onderwys, wat neerkom op sowat 13,38% van die jaarlikse begroting. Die land het bitter min natuurlike hulpbronne en is genope om in die jeug te belê. Hiermee het hulle baie sukses. Maar, wat is die werklike rede vir die land se sukses. Dit my liewe lesers lê in die akroniem MPH; M (meritocracy/meritokrasie), P (pragmatism/pragmatisme) en H (honesty/eerlikheid). Aanstellings in Singapoer geskied absoluut op grond van meriete; slegs die beste kandidate in terme van kwalifikasies, vaardighede en diensrekord word in die openbare en privaat sektor aangestel. Nepotisme is feitlik nul. Verder word slegs teorieë en praktyke wat aan streng toetse onderwerp is, en met die waarskynlikheid van ’n hoë sukseskoers, geïmplementeer. Wat werk, is goed! Die derde been van die suksesformule is eerlikheid; ’n persoon wat selfs net na korrupsie “ruik” kan vergeet van ’n aanstelling in die openbare of privaat sektor. Nepotisme word natuurlik soos die pes vermy. So het Singapoer uit die derde wêreld ontsnap en vir hom ’n welverdiende plek in die eerste wêreld gekry.
Singapoer stel ’n pragtige voorbeeld vir ontwikkelende lande. Die MPH-formule kan ook vir ons werk, maar dit sal ’n klompie kritieke veranderinge verg. Regstellende aksie wat ’n klein premie op ervaring plaas en dwars in die weg staan van meriete aanstellings, sal moet waai. Weldeurdagte praktyke wat werk en vry is van ideologiese en politieke vooroordele moet altyd vooropgestel word. En, laastens sal korrupsie met hand en tand beveg word. Dit sluit ook die aanvul van inkomste met reis-en verblyfvoordele in. Maar baie belangrik, die onderwysgemeenskappe sal moet omgee en deel word van so ’n beweging. Dit is Delia Ferreira wat gesê het: “People’s indifference is the best breeding ground for corruption to grow.”
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie