Onderwyssake rubriek Godfrey Kleinhans
Onderwyssake rubriek Godfrey Kleinhans

Onderwys - Net nog 'n praatberaad?

Godfrey Kleinhans
Die onderwyskonferensie het gekom. En gegaan.

Daar is baie gepraat, baie probleme uitgewys en sekerlik ‘n klompie resolusies aanvaar. “Now hard work,” soos oudpresident Sam Nujoma altyd gesê het.

Ons onderwysstelsel is sekerlik nie die swakste in die wêreld nie, maar die probleme is legio. Ons is nog in die greep van winter, maar vanoggend terwyl ek op die werf rondstap, sien ek die eerste swaeltjies. In sommige kulture word daar geglo dat swaeltjies die bringers van geluk is. Stilweg het ek gehoop daar wag geluk en goeie gesondheid op ons.

Ek hoop ook dat dit ‘n goeie teken vir ons onderwyssisteem is. Die oes staan wit op die land en soms wonder ek of al die beskikbare hande gewillig, gedrewe en bedrewe genoeg is om die uitdagings te hanteer.

Eerstens vertrou ek dat ons nie weer die fiasko soos na die 2011 konferensie sal ervaar nie. Strukturele veranderinge is destyds aangebring en graad 11 het vir baie leerlinge die afsnypunt geword. 'n Klompie jare daarna is uit sekere kringe aangedring dat die leerlinge tot universiteit toegelaat moet word. Unam het aanvanklik geweier, maar toe die minister haar rug styf maak, het die universiteit teruggekrabbel. Ek bly oortuig die universiteit se outonomiteit het hier ‘n knou gekry.

Van die afgevaardigdes, insluitende president Hage Geingob, het geen geheim daarvan gemaak dat ons onderwysstelsel probleme het nie. Daar was gekla oor gebrekkige fasiliteite en ‘n tekort aan onderwysers vir tegniese vakke, wiskunde en wetenskap.

Ook by die Vierde Industriële Rewolusie-konferensie het die president gesê onderwys kweek nie die nodige, toepaslike opgeleide werkers vir die arbeidsmark nie. In 2021 het die African Peer Review Mechanism bevind individue wat die skool en tersiêre inrigtings verlaat, voldoen nie aan die vereistes van die arbeidsmark nie.

Die meeste van die klagtes is aan ons bekend. Same ole', same ole'. En, dit lyk nog altyd of ons nie hierdie probleme susksesvol kan aanspreek nie.

Hoeveel navorsing pak plaaslike akademici aan wat die onderwysprobleme aanspreek? Naas onderrig, is dit deel van akademici se verantwoordelikheid.

Dit is wat Bernadus Swartbooi van die Landless People's Movement in twyfel trek. Hy voer aan dat die universiteit sy status verloor en wonder wat die professore doen om dit te verhoed.

Dieselfde menings word gehuldig deur prof. Peter Katjavivi, maar hy gaan verder. Volgens hom is afwesigheid van en die gebrek aan dosente in sommige vakareas ‘n groot probleem. Universiteitspersoneel moet ook op die ouderdom van 60 aftree; juis wanneer hul begrip en vaardighede ten opsigte van hul vakareas op die beste is. Mens kom onwillekeurig tot die gevolgtrekking dat dit wil voorkom asof ons tersiêre instansies eenvoudig nie die navorsingskapasiteit en wil het om die pad vorentoe aan te wys nie.

Daar is opnuut gesê onderwys is almal se plig. Dit beteken nie net die betrokkenheid en bydrae van die privaat sektor nie, maar ook die betrokkenheid van onderwysgemeenskappe. Hierdie aspek van onderwysvoorsiening het ek al oor en oor in hierdie rubriek bespreek. En ek vra nog steeds wat die bydrae van skoolrade is behalwe om kandidate vir aanstellings aan te beveel?

Hoe gereed is hulle vir die uitvoering van hul opdragte? Hoe lyk hulle opleiding? Hoeveel van die streke beskik oor onderwysforums? Hoeveel van die afgetredenes (veral na die ouderdom van 67) word op ‘n tydelike basis gebruik?

Op Uitenhage van waar ek kom, het die Moslem-gemeenskap ‘n skool gestig; ‘n skool met die gewone en bekende kurrikulum. Hulle het ‘n klomp afgetrede onderwysers en bo die onderdom van 65 aangestel. Deur dit te doen, het hulle ‘n massiewe volume kennis en vaardigheid bymekaar gebring.

En, glo my vry, hulle maak ‘n sukses daarvan.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!