Onderwysrubriek
Onderwysrubriek

Onderwys – Om te weet is nie genoeg nie

Een van die kerndoelwitte van onderwys is om leerders met kennis toe te rus.

Nie net kennis wat êrens in die geheue gestoor word nie, maar wel die vermoë om “te weet” (to know). Hulle moet eendag as volwassenes kan leef sonder wantroue, diskriminasie, uitsluiting en oneerbiedigheid. Ons glo dit sal help dat individue, families, bure en gemeenskappe mekaar beter sal ken en verstaan.

Leiers sal leer om geskille en verskille op te los en burgeroorloë en oorloë sal onnodig word. Aan die wortel van hierdie “te weet”, is die vermoë om te onderskei tussen reg en verkeerd, die goeie en die bose, die etiese en die onetiese en die morele en immorele. Die Koki’s (die goeie) van hierdie wêreld sal die Raka’s (die bose) oorskadu (Raka van Dirk Opperman).

Skole was nog nooit alleen in die stryd om hierdie begrip in gemeenskappe te vestig nie. Die jeugbedieninge van die Christelike kerke, Madrassa-klasse vir Moslem-kinders, die Padvinders (vir meisies en seuns) sowel as die Voortrekkers van die Afrikaners, het net so groot bydrae gelewer. Die verwagting was nog altyd dat ons op hierdie wyse die wêreld van trauma, lyding, verskuiwings en tragedie kan bevry. Maar, toe nie!

Die 20ste eeu was seker die bloedigste van alle eeue. Twee wêreldoorloë, die Anglo-Boereoorlog, die vervaardiging en ingebruikneming van die atoombom en vryheidsrewolusies en burgeroorloë in Afrika. Infrastruktuur is vernietig en der miljoene soldate en burgerlikes is dood. In Duitsland alleen is ses miljoen Jode deur die Nazi’s vermoor.

En vandag? Die tronke is vol diewe, verkragters, swendelaars en wreedaards. Die kerke praat van eenheid, wat maar eintlik net ’n hersinskim is terwyl hulle sukkel om lede van die gay-gemeenskappe op die kansel toe te laat.

Vandag is Rusland en die Oekraïne vir meer as ’n jaar al aan mekaar se kele, terwyl strydende faksies in Soedan sorg vir baie lyding en verskuiwings. Ons buurland kreun onder onbevoegdheid, oneerlikheid en korrupsie. Die aller vreeslikste diskriminerende wette is nou onlangs in Uganda teen gays aangeneem.

Ons sit hier met ’n reuseparadoks. Ons belê baie in die najaag van “om te weet” terwyl presies die teenoorgestelde gebeur as wat ons verwag. Ons strewe na die vestiging en erkenning van individuele menseregte om sodoende maatskaplike geregtigheid te bekom en ons kry presies die teenoorgestelde. Waarom is die response van ons pogings “om te weet” dan so power. Ons los Raka by die hek van die kraal en weier om Koki te ondersteun!

Maar, steeds watter foute maak ons wanneer ons leerders leer om “te weet”? Is die morele onderbou van die begrip te skraal? Fokus ons te min op wat reg of verkeerd is of is die voorbeelde wat ons voorhou nie rêrig relevant nie? Is die boodskap wat ons verkondig gebore uit eie ervaring of wat ons in “eie kring” as reg beskou?

Om te steun op wat in “my” gemeenskap” as reg of verkeerd beskou word, is ’n eensydige speletjie. Wat as reg of verkeerd in ’n gemeenskap beskou word, is nooit staties nie. Onmiddellik laat dit my dink aan die sosiale onderbou van die tema van om “te weet”. Ek is lid van die Nagkantoor-Facebookblad; daar kom ’n mens tot jou skok agter hoeveel mense nog steeds glo dat apartheid regverdig was sonder om te dink aan die maatskaplike onreg wat gepleeg is. Dit lyk nie of die geskiedenis van veel hulp is nie. Die geskiedenis leer ons om eie keuses te maak om ons wêreld te verbeter.

Die verlede is ons beste voertuig na selfbemagtiging. Maar, hoe suksesvol is ons hierin?

(Met vrug gebruik gemaak van “Knowing enough to act”: The Educational Implications of a Critical Social Justice Approach to Difference van Crain Soudien.)

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!