No Image Caption

Onderwys – Onderwysdoelwitte

Onafhanklike Namibië het ’n ongelyke en onregverdige bestel uit die koloniale boedel geërf. Ja, ons het ’n graad 1- tot 12-skoolstelsel met voorskoolse klasse in sekere gebiede gekry. En, verder sou die paar tersiêre opleidinginstansies (onderwyskolleges en die Akademie) dien as ’n goeie basis vir die uitbreiding van naskoolse opleiding. Die ministerie moes nou fokus op die vestiging van ’n demokratiese bestel wat in diens van die hele bevolking moes wees. Die strategieë, soos vervat in Toward Education for All (1993), moes aan hierdie ideaal gestalte gee. Aan die einde van die “reënboog” moes ’n demokratiese bestel, gekenmerk deur toelating vir almal, kwaliteit-onderwys en billikheid teenoor almal vir ons wag. Die eerste direkteur van die beplanningsdirektoraat, mnr. Mukenda, het in ’n werkwinkel hierna verwys as die leidende sterre van die Namibiese onderwysstelsel.

Maar, dit was ’n groot vraag en die ministerie het voor ’n groot berg te staan gekom. Eerstens het die grondwetlike bepaling oor onderwysvoorsiening ons skoolstelsel oopgemaak en skoolbesture moes buitegewone innovasie aan die dag lê om in die aanvraag om toelating te voorsien. En natuurlik het die “vrygemaakte” Namibiese volk daarop aangedring. Kritici en skeptici het van meet af gewonder of ons oor die organisatoriese kapasiteit en geld beskik om die groter onderwyssektor te kan hanteer. Vrae is in werkwinkels en in die koerante gevra, maar die wa moes deur die drif! Toward Education for All meld, “Our national development cannot wait”.

Daar is nog ’n belangriker rede wat verband hou met die ontwikkelingsagenda waarom die onderwysopset so spoedig moontlik genormaliseer moes word. Namibië, net soos die ander voormalige kolonies in Afrika, het oor baie grondstowwe beskik, maar nie oor die nodige tegnologie en vaardighede om dit te prosesseer en om te sit in produkte nie. Die koloniale naelstring kon net nie geknip word nie. Onderwys en opleiding was nodig om die naelstring te knip en die uitbuiting te stuit.

Maar, waar bevind ons, ons tans. Ek dink dat dit tyd is vir ’n bestekopname om presies te bepaal waar ons staan met betrekking tot toelating vir almal, kwaliteit-onderwys, billikheid en demokrasie. Wat toelating betref het ons baie sukses behaal en ons skole is tot ’n groot mate gedemokratiseer. As ons kyk na die pas waarteen ons leerlinge deur die skoolstelsel vorder en hoeveel ná 12 jaar gradueer, skort daar beslis iets met die kwaliteit van die skoolprosesse. Dit wil my voorkom of daar ook nog baie probleme is wat billikheid betref. Talle kinders ontvang nog onderrig in tente en onder bome terwyl baie skoolstrukture herinner aan Ndilula (1988) se waarneming in Namibia Education and Culture, ”little nothings, neglected, poor and unsupervised”.

Nou die ander dag gesels ek met ’n onderwyser oor geriewe by hul skool. Dit is ’n sekondêre skool sonder ’n laboratorium of selfs ’n mobiele een. Die onderwyser moet alles teoreties doen. Ek vra weer is dit reg (of eerder regverdig) dat drie hoërskole op dieselfde dorp toegerus is met een of twee laboratoria terwyl hierdie een niks het nie. Ek vra ook in hoe ’n mate die laaste kurrikulêre veranderinge resulteer het in rasionele skoolontwikkeling.

Ek verneem dat die minister in sy begrotingsrede meer geld aan onderwys toegestaan het. Maar, sal dit nie weer ’n geval wees van te min, te laat nie? Ek kry so ’n gevoel dat ons reeds die trein na die 2030 ontwikkelings-inisiatiewe verpas het!

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!