Onderwysrubriek
Onderwysrubriek

Onderwys – Onderwysgeleenthede

Sanet Pearson
Onderwys is ’n sektor van geleenthede; baie meer as net lees, tel en skryf. Carte Blanche het Sondagaand (24/09/2023) vertel van ’n skool in my grootworddorp Uitenhage, in die Oos-Kaap, wat my bors sommer laat swel het.

Die insetsel het gegaan oor Daniël Pienaar Tegniese Hoërskool, een van net drie skole ter wêreld wat motorsport as ’n vak aanbied. Die hoërskool is ’n Model C-skool wat vernoem is na die Afrikaner militêre figuur, Dan Pienaar. Dit was in die apartheidsjare geleë in Cuylerstraat, teenaan die Swartkopsrivier.

Die skool was slegs toeganklik vir seuns uit die wit gemeenskap wat in een of ander tegniese rigting belang gestel het. Ek weet baie van hierdie seuns het ná matriek werk as tegnici by Volkswagen en die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens gekry. Die skool het later jare die ou perseel op die oewer van die Swartkopsrivier vir ’n meer moderne een elders in die dorp verruil. Hierdie tegniese skool is ook uiters gunstig geleë siende dat Uitenhage en Port Elizabeth onder andere bekend is vir die vervaardiging van motors en motoronderdele.

Dit bring my by vandag se onderwerp. Die konstruksie van die tegniese beroepsopleidingsinstituut op Keetmanshoop vorder fluks en behoort in die afsienbare toekoms voltooi te word. Niemand hoef te verskil oor die nodigheid en geskiktheid van die voorgenome inrigting nie.

Ná die voltooiing sal die dorp oor uitmuntende onderwysinstansies beskik; laer- en hoërskole, die nuwe instansie vir beroepsvaardighede, Namibiese Instituut vir Mynbou en Tegnologie en die Universiteit van Namibië se satellietkampus. Die toekoms blink en mens kan net hoop en bid dat al hierdie instansies goed gebruik sal word.

’n Klompie jaar gelede was ek betrokke by die tweeling-ooreenkoms tussen die ||Kharasstreek en die Noord-Kaap. Die stigters was van mening hierdie ooreenkoms sou die deure van geleenthede vir die twee streke oopsluit. Ek was onder andere daarvoor verantwoordelik om nuwe geleenthede binne die raamwerk van die ooreenkoms te soek. Een daarvan was om die Kimberley International Diamond and Jewellery Academy by die ooreenkoms te betrek. Jong mense kry hier opleiding in die slyp, sny en polering van juwelierstene.

Die gedagte destyds was om ook toelating vir ons jongmense daar te kry. Ek was ook van mening dat instansies wat half-edelgesteentes hier op die dorp verkoop ook by ’n ooreenkoms met Kidja sou baat.

Van hierdie voorstelle van my het dadels van gekom; die streekraad het, ten spyte van die oogmerke van die ooreenkoms, het hulle geensins daaraan gesteur nie. En so het ander voorstelle ook gesneuwel. Ek glo ook nie dat daar ooit ’n evaluering van die ooreenkoms gedoen is nie.

Nou, soos reeds gesê is onderwys ’n sektor van geleenthede. Ek vertrou dat die voorgenome instituut vir tegniese beroepsopleiding die antwoord is op die geleenthede waarna ons jongmense so na uitsien. Dit is ook my bede dat die rolspelers nie tot politici en streekadministrateurs beperk sal wees nie; dat almal, die myne in Oranjemund en Rosh Pinah, die wingerdaanlegte by Aussenkehr en Komsberg en elders in die streek, die kommersiële en kommunale boere, die besighede en skoolgemeenskappe na die tafel genooi sal word.

Dit is my bede dat die voorgenome instituut nie soos Cosdec en ander soortgelyke instansies stille dode sal sterf nie.

Dit is aan ons gemeenskap en veral ons kinders verskuldig.

(Ek dra hierdie rubriek op aan wyle hoofman Stephanus Goliath en oudgoewerneur Dawid Boois. Hulle het sulke groot drome vir die tweeling-ooreenkoms en streek gehad).

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!