Onderwyssake rubriek Godfrey Kleinhans
Onderwyssake rubriek Godfrey Kleinhans

Onderwys - Regspraak en gedragskodes

Godfrey Kleinhans
Ek wonder tog of skoolrade en streeksonderwysrade ná die onlangse herrie oor leerlinge se haarstyle werklik duidelikheid het oor gedragskodes as 'n middel om dissipline te handhaaf.

In terme van die Namibiese Onderwyswet is skoolrade in samewerking met skoolbesture (onderwysers en ander belanghebbendes) belas met die opstel van ‘n gedragskode vir die leerlinge van ‘n spesifieke skool. Die doel van so ‘n stel reëls is nie om as ewigdurende teregwysings en waarskuwings te dien nie, maar om ‘n gedissiplineerde, doelgerigte, gesonde en ondersteunende omgewing te skep waarbinne onderrig en leer kan gedy.

Selfs in ‘n dissiplinêre verhoor mag die beweerde oortreder nie soos ‘n misdadiger behandel word nie - die belange van die leerling moet steeds voorrang geniet.

Ek kry egter die indruk dat skoolrade en personeel se opleiding in hierdie verband beperk en onvolledig is. Hofuitsprake is altyd ‘n goeie bron van inligting, advies en rigtingwysers.

‘n Vyftienjarige dogter is deur die hoof van ‘n Wes-Kaapse skool geskors omdat sy dreadlocks en ‘n mussie gedra het. Sy en haar ouers se verweer was dat sy ‘n rastafariër is en dat die haarstyl ‘n uitdrukking van haar geloof is. Verder het sy aangevoer dat die geloof vroue verplig om hul hoofde te bedek.

Die skoolhoof het egter volgehou dat die optrede in konflik met die gedragskode vir leerlinge was. Die skoolraad het saamgestem en daarom is die dogter formeel van ernstige wangedrag aangekla. Sy is skuldig bevind en geskors.

Die ouers het die hoërhof gevra om die skoolraad se besluit tersyde te stel. Die hoof van Wes-Kaapse onderwysdepartement en die lid verantwoordelik vir onderwys in die uitvoerende raad van die provinsiale owerheid is as tweede en derde respondente gevoeg.

'n Regter het ná deeglike oorweging van die feite, die skool se gedragskode en relevante wetgewing in die guns van die dogter beslis.

Die hof het bevind dat die skoolraad se bevindings en finale besluit nie gerig is deur die demokratiese waardes van menswaardigheid, gelykheid en vryheid nie. Volgens die hof was die skoolraad ongeduldig as gevolg van ‘n gebrek aan onderlinge respek en 'n strewe na versoening; die raad se optrede was abrup en daar was geen sprake van mediasie soos mens sou verwag nie.

Die skoolraad se dwaling was te wydte daaraan dat hierdie belangrike beginsels nie in die gedragskode ingebed was nie. Hulle kon geensins daarop aanspraak maak dat hul optrede gerig was deur die beginsels van geregtigheid, regverdigheid en redelikheid soos deur die grondwet voorgeskryf word nie. Die tersake skoolreël(s) was duidelik nie geskryf om positiewe dissipline te bevorder nie.

Die hof het getwyfel dat die dra van dreadlocks en ‘n mussie so ‘n ernstige oortreding is en dat dit ontwrigting en onsekerheid by die skool veroorsaak het. Die hof het aangevoer dat die sogenaamde ernstige oortreding nie gelyk gestel kan word aan byvoorbeeld die gebruik of verspreiding van alkoholiese drank en dwelms, aanranding, diefstal of die vorme van immorele gedrag wat die gedragskode verbied het nie. Volgens die hof was daar geen teken van skandalige of onbehoorlike gedrag soos die skoolraad beweer het nie.

Die finale doodspyker in die saak van die respondente was die feit dat die gedragskode nie pertinent na dreadlocks en hoofbedekkings verwys het nie. Verwysings na haarstyle en haartoebehore was wyd en onspesifiek.

Hier is ‘n hele paar waardevolle lesse te leer.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer