No Image Caption

Onderwys – Regstellende wetgewing: Deel 2

Sanet Pearson
Kolonisasie het ’n geweldige negatiewe impak op die lewens van die inwoners van die besette gebied gehad. Dis in besonder die impak op onderwys, opleiding en arbeid wat die aanname van regstellende aksie geïnisieer het.

Regstellende aksie was (en is) daarop gemik om diskriminerende praktyke, wat intiem verbind was met die sosioëkonomie en wat nie versoenbaar was met demokratiese grondwette nie, tot ’n val te bring. Die doel dus is om ongelykhede te takel, wat verkeerd was reg te maak en om regverdigheid en billikheid in skole, universiteite, tegniese opleidingsinstansies en die werkplek te bevorder. Regstellende aksie is in hierdie sin ’n imperatief, nie ’n keuse nie.

Regstellende aksie moes (en moet steeds) taamlike groot struikelblokke oorbrug wat vir regerings erge hoofpyne besorg het. Die meederheid van die voormalige kolonies het mede-ondertekenaars geword van konvensies wat die uitbreiding van politieke regte en die erkenning van menseregte en sosiale geregtigheid voorgestaan het.

Nou moes die einste voormalige kolonies wette aanneem om enersyds die sondes van die verlede te takel en reg te stel en andersyds voorheen bevoordeeldes te benadeel. Die arbeidsmark word nou gedwing om kriteria aan te wend wat die voorheen benadeeldes bevoordeel. Natuurlik word regstellende aksie deur die voorheen benadeeldes verwelkom, ander aanvaar dit met gelatenheid terwyl ander dit as diskriminasie in trurat beskou.

Een groot probleem waarmee die regerings, veral die van Suid-Afrika en Namibië, mee geworstel het na demokratisering, was die aantal staatsdienspersoneel. En natuurlik was die meeste besluitnemers in hierdie sektor wit. Rekonsiliasie was die wagwoord ná die stryd terwyl die Grondwet voorkom het dat persone wat bepaalde posisies voor Namibië se onafhanklikwording beklee het, nie uit hul posisies kon ontslaan word nie. Maar die situasie kon nie onverpoos toegelaat word nie. Nuwe personeelstrukture in die staatsdiens is geskep, persone moes hierdie poste vul en dit het ’n enorme staatsdiens tot gevolg gehad. Dan moet mens onthou dat desentralisasie ook nog sy bydrae gelewer het. Die opgeblase staatsdiens het natuurlik ’n geweldige impak op die aanwending van rykdom in die land gehad. Dan was daar ook verliese. Baie amptenare het bedank, die land verlaat met al hul pensioenvoordele, opgehoopte bates en kundigheid.

Wat my nog al die tyd pla, is die verduideliking van die groep wat as voorheen benadeeldes beskou word. Die eerste klas waarna die Namibiese wet verwys, is persone wat tot ’n sekere ras of etniese groep behoort wat maatskaplik, ekonomies en opvoedkundig in die arbeidsveld benadeel is, as gevolg van diskriminerende wette. Die ander twee klasse is vroue en gestremdes.

Ek het voor my aftrede op aanstellingspanele gedien en is nie heeltemal vertroud met die hedendaagse praktyke nie. Ek sal graag wil weet hoe die geval van die vroulike blanke aansoeker, teen wie daar ook gediskrimineer was, gehanteer word. Blanke vroue (so ook die sg. kleurlingvroue) kon byvoorbeeld vir jare nie permanente poste beklee sodra hulle in die huwelik getree het nie; veral nie in die staatsdiens nie. Dit het natuurlik loopbaan-onsekerheid in die hand gewerk en bevordering was net nie moontlik nie.

Ja, die toepassing van die regstellende maatreëls was en is steeds nie maklik nie; maar die regerings in die vrygemaakte lande het nie veel van ’n keuse gehad nie. Volgende week kan ons na ander aspekte van regstellende wetgewing kyk. (Met vrug gebruik gemaak van A Dupisani (1993) se Affirmative Action in Namibia.

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!