Onderwys – Skoolbiblioteke
Na aanleiding van ’n berig in Republikein dat 90% van staatskole nie oor funksionerende skoolbiblioteke beskik nie, wonder ’n mens hoe belangrik hierdie instansies werklik vir skole en gemeenskappe is. Ek wil positief wees en weier om te byt aan Nahas Angula se uitspraak dat, “Afrika nie waarde heg aan kennis nie”.
Biblioteekfasiliteite word baie wyd gedefinieer; dit kan enigiets insluit vanaf ’n tradisionele biblioteek tot ’n boekversameling in die klaskamer. Die ministerie rapporteer in sy jaarlikse vrystelling oor statistieke slegs oor biblioteke en bronnesentra. Maar, is dit nie tyd dat die ministerie duidelikheid hieroor gee nie; mobiele biblioteke (book boxes) wat baie meer geskik vir klein landelike skole is, word nie vermeld nie.
Daar is verder ’n “snaaksigheid” in die berig wat my hinder. Volgens die berig is ||Kharas een van die streke wat nie oor ’n enkele funksionerende skoolbiblioteek beskik nie. Ek vind dit snaaks omdat die twee skole, Suiderlig Hoërskool en Lordsville Junior Sekondêre Skool waar ek hoof was, wel funksionerende biblioteke gehad het. Sandra Kleinhans was die biblioteekonderwyser by Lordsville terwyl die biblioteek van JA Nel Hoërskool in die hande van Marie Smit, wat opgelei was om ’n skoolbiblioteek te bestuur, was. My eie dogter het haar liefde vir lees en boeke te danke aan Juffrou Baks Steenkamp van die Keetmanshoop Primêre Skool. En laastens, die formidabele Juffrou Kusch sou nooit toelaat dat biblioteke onder haar toesig in disfunksionaliteit verval nie.
Onderwysers en leerlinge van Suiderlig het ’n tyd gelede besluit om die agteruitgang van die biblioteek te stuit. Dit het aanvang geneem met herstelwerk en binnenshuise verfraaiing en die toevoeging van nuwe boeke, leermateriaal en tegnologie. Die fondse vir hierdie transformasie is deur Waltons, die Canyon Hotel, die ministerie van onderwys en die ||Kharas-streekraad geskenk. Die skool beplan ook nou om die biblioteek te gebruik vir byeenkomste van die boekklub, die aanbied van werkwinkels, seminare en storiesessies. As voormalige skoolhoof wens ek hulle geluk en ook alle sukses met hierdie projek.
Hier ter plaatse en in die RSA word gereeld gekla oor leerlinge wat nie vlot en met begrip kan lees nie. Die 2020 Leespaneel in ons buurland het in 2023 bekend gemaak dat 82% van graad 4-leerlinge nie met begrip kan lees nie. Wat wel belangrik is om te noem is dat die koers voor Covid 78% was.
’n Groter studie in Afrika suid van die Sahara wys dat die koers van 57% voor Covid tot 89% ná die pandemie gestyg het. Hulle kan die sinne lees, die woorde korrek artikuleer, maar verstaan weinig daarvan. Lesers sal my gekerm oor verlore onderrigtyd gedurende hierdie tyd onthou en my beskuldiging dat die situasie vererger is deur ingekorte onderrigtyd. Dit vir eers daar gelaat; tong uitsteek en wela kapela sal nou niks help nie.
Alhoewel navorsing nie ’n korrelasie tussen biblioteekbesoeke en leesvaardighede kon vind nie, toon dit wel aan dat hierdie besoeke wel goeie leesgewoontes en liefde vir boeke bevorder, woordeskat word uitgebrei en kritiese denke verbeter.
Biblioteke impakteer positief op persoonlike ontwikkeling en intellektuele groei. Dit is absoluut kritiek dat onderwysowerhede in die streke skoolbiblioteke ondersteun en sorg dat dit goed bestuur word. Inspekteurs van onderwys, skoolbesture en skoolrade moet besef dat dit hul plig is om seker te maak dat dit wel gebeur.
(Ek dra hierdie aflewering op aan onderwysers vir die heldhaftige stryd teen die verval van hierdie instansies; ook aan diegene wat reeds gestry het! En ook aan die formidabele Juffrou Kusch en Juffrou Baks wat ons ’n paar jaar gelede ontval het. En, natuurlik aan haar gade, Mnr. Steenkamp, daar op die plaas. Sterkte.
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie