No Image Caption

Onderwys – ‘Stakeholder’-bestuur

Ek het al heelwat geskryf oor die belangrikheid van die betrokkenheid van eksterne belanghebbendes (stakeholders) by skole.

In vandag se rubriek wil ek graag die Engelse benaming “stakeholders” gebruik; almal is tog vertroud daarmee.

Ek was aangenaam verras om te sien hoe skole in die streek al gebaat het by die insette van stakeholders oor die jare. Wat donasies in geld en boumateriaal betref, het Krönlein Primêr seker die beste gedoen; sien verlede week se rubriek.

Ek is oortuig daarvan dat ons skoolhoofde redelik vertroud is met die prossesse van skoolbestuur. Maar, ná my kort verslag oor die Krönlein-saalprojek is ek nie so seker oor hoe skole die verhoudings met eksterne stakeholders, soos die myn- en vismaatskappye, klein en groothandelaars, die polisie en maatskaplike dienste, plaaslike owerhede, nieregeringsorganisasies, kerkdinominasies en welwillende individue, bestuur nie. Wat kan doen skole om hierdie instansies se betrokkenheid te optimaliseer?

In die eerste plek moet skole eksterne stakeholders betrek met die uitsluitlike oogmerk om gehalte-onderwys te realiseer; natuurlik moet dit ook die enigste motivering wees waarom stakeholders skole wil ondersteun.

Tweedens behoort elke skool oor ’n lys van stakeholders in hulle eie streek te beskik; ervaring het geleer dat jou eie gebied se stakeholders baie gretiger is om te ondersteun as die in ander streke. Mens moet egter onthou dat daar instansies is soos Anglo American wat bereid is om skole landswyd te ondersteun.

Derdens sal dit in die skool se belang wees om te weet watter funksies hierdie stakeholders in die streek vervul. Stakeholders wat in mynbou en die vervaardigingsektor is, kan ’n groter verskeidenheid van insette lewer as ’n klein handelaar.

Vierdens, hierdie stakeholders het ook ’n baie groter invloedsfeer; hulle kan ander welwillende individue en instansies oortuig om na skole uit te reik.

Hierdie invloedryke stakeholders beskik in die vyfde plek oor afdelings en werknemers wat oor die nodige kundigheid beskik om skole te help om probleme te identifiseer en oplossings daarvoor te vind.

In die sesde plek het sommige stakeholders ook die vermoë (vaardigheid, kundigheid en fondse) om transformasie te bevorder. Stakeholders soos universiteite is toegerus om hierdie funksie as “change agents” te vervul.

Laastens kan dit skole loon om stakeholders se “ondersteuningsverlede” na te gaan. Sommige instansies sal eerder volwasse sportkompetisies jaarliks ondersteun as om geld in ’n sopkombuis of skoolprojekte te steek.

Gewapen met hierdie inligting kan ’n skool nou sy behoefte (die voorgenome projek) identifiseer en duidelik omskryf. Hierna kan die projekvoorstel (project proposal) geskryf word en die moontlike donateurs geïdentifiseer word. Die voorstel kan nou voorgelê word aan van hierdie donateurs en alle onduidelikhede tydens ’n ontmoeting, opgeklaar word. In alle waarskynlikheid sal die donateur ’n reeks vrae hê.

Dit is belangrik dat hierdie proses soos hierbo uiteengesit deur die projekkomitee van die skool gedryf word. Dié komitee behoort ook op ’n gereelde grondslag aan die skoolraad, skoolbestuur en stakeholder verslag te doen. Verteenwoordigers van die stakeholder moet ook betrek word by vergaderings en die moniterings- en evalueringsprossesse. Projekte kan omvangryk en duur wees en gevolglik is deursigtigheid van groot belang. Alle kontrakte (met diensverskaffers), verslae, betaalbewyse, notules en briewe moet behoorlik geliasseer en bewaar word. – [email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer