No Image Caption

Onderwys – Tipes skooltyd

Tyd is ’n niehernieubare kommoditeit; as dit verby is, is dit verby.

Ons is geneig om te praat van “tyd opmaak”; dis nie moontlik nie. Die tyd wat ons vir “opmaak” oogmerk, is reeds vir die volgende produksie prosesse gereserveer. Ons kan nooit die belangrikheid van tyd in ons lewens onderskat nie.

Dit is Arnold Bennett wat dit met die volgende onderstreep het: “Dost thou love life? Then do not squander time, for that is the stuff life is made of.”

Die Bybel in Spreuke 3:1-11 leer ons daar is ’n regte tyd vir elke ding. Die Koran sê tyd is deel van God se Skepping en is gedurig onder Sy bevel. Die Covid-pandemie het ’n uiters negatiewe impak op skooltyd gehad en daar is gedurig gepraat van tyd “opmaak”. Ek wonder soms of die onderwysowerhede ’n ondersoek geloods het om te bepaal hoeveel onderrigtyd verlore gegaan het en watter dele van die kurrikula eenvoudig tersyde gestel is?

As ’n mens kyk na die verskillende tipes skooltyd, kan dit moontlik ’n idee gee van die impak van Covid. Toegewysde tyd word vasgelê in onderwysbeleide en uiteengesit in die regulasies en sillabusse. Dit is die kollektiewe naam vir skooltyd of skooldae, klaskamertyd en onderrigtyd. Hierdie voorskrifte is verpligtend en afwyking is net toelaatbaar in onvermydelike omstandighede.

Ek kan onthou ons moes terug skool toe op ’n Saterdag as toestemming verleen is dat die skool vir een dag in daai betrokke week kon sluit. Registers is gehou en van die onderwysers is verwag om die betrokke Saterdag as ’n normale skooldag te beskou.

Gedurende Covid-19 moes skole ingevolge ’n instruksie van die regering vir ’n tydperk sluit en ná die heropening kon slegs ’n voorgeskrewe aantal leerlinge in ’n klaskamer toegelaat word. Hierdie noodmaatreëls het tot gevolg gehad dat skool-, klaskamer- en onderrigtyd verlore gegaan het.

Dit is ontstellend as ’n mens daaraan dink dat tot 29% van onderrigtyd in die hoërskool onder normale omstandighede verlore gaan.

Die verlies aan tyd soos hierbo beskryf, het ook tot gevolg dat leerlinge minder tyd het om werklik by die leerinhoud betrokke te raak. Dié tyd word gekenmerk aan lesaanbieding, interaksie en deelname. Wat egter verder ontstellend is, is dat leerlinge baie min geleenthede gehad het om by werklike leerinhoud betrokke te raak. Dit is tydens dié tyd wanneer leerlinge aktief besig is met take op die toepaslike moeilikheidsgrade vir hulle vlakke van ontwikkeling en ook hoë vlakke van sukses ervaar.

Dit sluit natuurlik eenvoudige en roetine-opdragte uit en gee ’n duidelike indruk van elke leerling se potensiaal. En, laastens is daar dooietyd; dit is wanneer die onderwyser en leerlinge wel in die klaskamer is, maar daar absoluut niks gebeur nie.

Ek kan nie help nie, maar ek moet nou eers hierdie staaltjie vertel. Jare gelede het ek as onderwysbeplanner ’n skool besoek en moes, op soek na ’n sekere onderwyser, by ’n klaskamer inloer. Die kinders was tjoepstil, juffrou voor in die klaskamer by die tafel terwyl een dogter haar “kop moes soek”, ’n praktyk wat ek uit my kinderdae so goed onthou. Tot my ergenis moes ek as kind gereeld my ma se “kop soek”; kon egter nooit enigiets kry nie.

Covid het ons die geleentheid gebied om te leer. Ons het nou die geleentheid om die lesse wat ons geleer het met mekaar te deel en ook te boek te stel.

(Met vrug gebruik gemaak van Kathleen Cotton se Educational Time Factors, 1989). – [email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!