Godfrey Kleinhans
Godfrey Kleinhans

Onderwys – Versorging van skoolhoofde

Charl en Yolandy Theron in hul artikel in Erongo van 6 April, skryf oor ’n onderwerp wat selde, indien ooit in onderwyskringe aangeraak word.

Hierin beweer hulle dat onderwysbelanghebbendes nie behoorlik omsien na die fisieke en geestelike welsyn van skoolhoofde nie. Hulle is van mening dat daar weinig ooreenkomste is tussen die enorme verantwoordelikhede van skoolhoofde en die geestelike en fisieke versorging deur onderwysbelanghebbendes.

Verder voer hulle aan dat die wyses hoe skoolhoofde hul pligte uitvoer, soms heftige kritiek uit die gemeenskap ontlok. Skoolhoof, net soos leraars, professionele praktisyns en sakebestuurders lei soms eensame en afgesonderde lewens. Kerkgenootskappe besef dit en dring daarop aan dat kerkleiers nou en dan onttrek en kort periodes by toevlugsoorde deurbring.

Vir die sakewêreld, wat ingestel is op wins, is hierdie geestelike en fisieke versorging baie belangrik. Hulle beskik onder andere oor spanbouprogramme om verhoudings tussen bestuur en werknemers te optimaliseer. Dit help om produksieteikens te behaal en winste op te stoot.

Maar, ek het enkele probleme met die Therons se artikel. Hulle artikel bevat geen voorstelle oor hoe skoolhoofde fisiek en geestelik ondersteun kan word as wat tans die geval is nie. Die oogmerk van die “regular check-ins” waarna hulle verwys, moet juis van ’n diagnostiese en helende aard wees. Dit is die tyd om motiverende en inspirerende gesprekke met die skoolhoof te voer.

Daar is egter ’n reeks ander programme wat hulle kon voorstel. Van hulle is spanboupogings, bosberade, probleem-voorkomende programme en mentorskapprogramme in die skool-klostersisteem. Verder kan skoolhoofde versoek word om hulle te onderwerp aan mediese ondersoeke en gesprekke met skoolsielkundiges een keer per jaar. Maar, mens moet onthou dat sulke programme nogal duur kan wees in terme van tyd en geld. My vraag egter is of die bronne wat aan derglike programme bestee moet word, nodig en geregverdig is?

Eerstens, die skrywers haal navorsingsbevindings aan dat skoolhoofde en ander senior personeellede tot 55 ure per week werk. Mens moet egter versigtig met hierdie aanname wees aangesien daar na ’n buitelandse opset verwys word. Ek aanvaar dat daar skoolhoofde (en onderwysers) is wat langer as die gewone aantal ure werk, maar ek glo ook dat daardie skole ver in die minderheid is. Daar was al pogings in die verlede om die skooldag tot 16:00 te verleng, sonder veel sukses.

Tweedens, moet ons kyk na die kwessie van toerekeningsvatbaarheid; wie moet geblameer word wanneer ’n skool eenvoudig nie presteer nie? Die tradisie het ontstaan dat die vingers na skoolhoofde wys wanneer die promosie-, herhalings- en uitvalkoerse onbevredigend is. En, bewaar die skoolhoof wie se graad 12-uitslae benede die verwagtinge van die belanghebbendes is. Ek loop ’n skrywe aan die skoolhoof van die Gekombineerde Skool Mumbwenge raak waarin die streekdirekteur onder andere sê: “Your performance has been pathetic, to say the least”. Verder noem hy ook almal is bewus van die gebrek aan noodsaaklike bronne, maar dat dit geen rede is om nie te presteer nie.

By ’n vergadering van onder-presterende skole in sy streek, vra die destydse direkteur. Johannes Kondombo: “How many learners should a principal fail in order to have him or her removed”.

Hierdie vraag kan ook jaarliks deur al wat ’n direkteur is herhaal word. Hier het Kondombo ook die aanbod gemaak: “You either shape up or you ship out.”

Die meeste van ons skole presteer nie. Nee, dit is nie geregverdig dat ons kosbare bronne aanwend vir die fisieke en geestelike versorging van skoolhoofde wat nie nodig is nie! Hierdie bronne kan eintlik aangewend word vir slypskole waar skoolhoofde meer kan leer van die bestuur van belanghebbendes (stakeholders), onderrigleiding, strategiese beplanning, sekere aspekte van die onderwysreg, situasionele bestuur en dies mees. (Met vrug gebruik gemaak van Accountabilty or Blame in Education (New Era 2008) deur Rosco Misika Lukubwe.)

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!