Onderwys – Vervaging van ons onderwysdrome

Die vraag van die Gaob by die lHai lKhau-fees in Berseba spook steeds by my.

Ek vermoed nou al vir ’n lang tyd daar is ’n ernstige diskonneksie tussen beleid en praktyk in ons land; die 2021 NSSC-O- en NSSC-AS-uitslae het dit weer eens bevestig. In die jaar het 281 526 matrikulante vir eersgenoemde gesit. Dit is moeilik om te begryp dat slegs 42,5% van hulle D-simbole en beter verwerf het. In die ||Kharasstreek het 8 996 matrikulante vir die eksamens gesit waarvan slegs 46% van hulle D-simbole verwerf het. Die nasionale prentjie in geselekteerde vakke van 2021 lyk soos volg (verwys na tabel).

Die NSSC-AS-leerders het heelwat beter gevaar. D- en beter simbole in die volgende vakke was soos volg; rekeningkunde 66%, landbou 93,2, Engels tweede taal 74%, wiskunde 55% en aardrykskunde 57%. Ek wil niks van hierdie leerders wegneem nie, maar dit is wat ons van die “room” van ons matrikulante verwag. Maar, nou duik die vrae op?

Eerstens, hoe is dit moontlik dat slegs 24% van ’n totaal van 46 829 NSSC-O-leerders wat vanaf hul eerste skooljaar wiskunde-onderrig ontvang, D- en beter simbole gekry het?

Tweedens, die wetenskap-grondbeginsels word reeds in die vroeë jare van die primêre skool vasgelê. Hoe is dit dan moontlik dat leerders so swak in chemie, biologie en fisika gevaar het?

Derdens, daar is ná 1989 besluit dat Engels die onderrigtaal sal wees maar ook as vak aangebied word. Ten spyte hiervan het slegs 51% van NSSC-O-leerders D- en beter simbole verwerf.

In die vierde plek raak die situasie meer raaiselagtig as ’n mens in ag neem dat Namibië se onderwysstelsel van die laagste onderwyser-leerder-ratio’s in Afrika vir ’n klompie jare nou al handhaaf. En, verder verhoed die volgehoue klaskamer-konstruksieprogram dat die klaskamer-leerder-ratio buite verhouding groei. Onderwysers (en kinders) behoort tog in derglike omstandighede te floreer.

Vyfdens, in die lig van ons positiewe onderwysbeleide maak die situasie soos hierbo geskets nog minder sin. Ja, ons het die Covid-pandemie gehad en die verlies aan onderrigtyd het ’n uiters negatiewe impak op die werksprogramme van ons onderwysers en die prestasies van ons leerlinge gehad; het nog steeds. Maar, in plaas daarvan dat skole die peloton-model-opsie gekies het, het hulle volgehou met die ingekorte skoolweek. Die verlore tyd kon en kan onmoontlik ingehaal word.

Laastens maak die onderwyswet voorsiening vir skoolrade en streekonderwysfora. Dit is baie duidelik dat hierdie instansies nie behoorlik ingelig is oor hul toesighoudende funksies nie. In ||Kharas het die streekowerhede vir jare geweier om ’n streekonderwysforum in die lewe te roep.

En, wat word van ons 2030 drome? Moet ons ook wonder soos Harlem Langston, “What happens to a dream deferred? Does it dry up like a raisin in the sun.”

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer