Onderwyssake rubriek Godfrey Kleinhans
Onderwyssake rubriek Godfrey Kleinhans

Onderwys - Vier van talle ingrypings

Godfrey Kleinhans
Dit is waar dat ons onderwys hom tans nie op ‘n goeie plek bevind nie, en dat ons nie antwoorde op al die uitdagings het nie.

Ons pogings om verlore onderrig- en leertyd in te haal, blyk futiel te wees, en dis duidelik dat die alternatiewe- skooldae model die situasie vererger. Retensie in die primêre skool is langer as sewe jaar en die aantal leerlinge wat voortydig tou opgooi, is onrusbarend.

Die gebrek aan geld bly maar ‘n kopseer, maar die ergste is dat ons ten spyte van geweldige breinkrag eenvoudig nie oplossings vind nie. Dis soos ek tans sake sien en ek verstaan ek is nie noodwendig reg nie.

In 2007 het twee opvoedkundige kenners en medewerkers navorsing oor koste-effektiewe intervensies in die primêre skoolfase in Engelsprekende Wes- en Oos-Afrika gedoen. Hulle is hierin gehelp deur ‘n groep onderwysbeplanners uit Afrika. Ek was deel van hierdie oefening en besef nou hoe waardevol sommige van die ingrypings kan wees, veral om die negatiewe gevolge van Covid-19 te versag.

Daar het al stemme opgegaan vir die verpligte implementering van die dubbelskofstelsel plus ekstra onderrigtyd oor ‘n naweek. Dit behoort nie net die verlies aan onderrig- en leertyd te beperk nie, maar hou ook die moontlikheid van inhaal in. Dit sal egter vereis dat onderwysers, ouers en die unies se samewerking verkry moet word. Verder sal administratiewe en skoonmaakpersoneel langer ure moet werk, wat beteken dat tydelike personeel aangestel moet word of werknemers moet ‘n ekstra toelaag ontvang. So 'n verandering sal fyn gemonitor moet word en die hulp van die verkeerspolisie sal ingeroep moet word om die veiligheid van jonger leerlinge in die besige laatmiddagverkeer te verseker.

‘n Ander ingryping wat die kwaliteit van onderwys en retensie kan verbeter, is om die heel beste onderwysers in die grondleggingsfase aan te stel. Hierdie onderwysers behoort die toepaslike opleiding te hê, asook genoeg ervaring en ‘n onberispelike rekord. Die probleem is dat sulke onderwysers meestal vinnig bevorder word en uit die grondleggingfase beweeg. Om hulle in die fase te hou, sal aansporingstrategieë verg.

Hierdie is voortreflike en effektiewe onderwysers wat goed bestuur en aangewend moet word in indiensopleidingsprogramme. Mens wonder egter hoe volhoubaar die intervensie sal wees, veral as dit kom by hoe kollegas dit gaan ervaar. Onderwysers trek ook soms die geelbaadjie aan.

Nog ‘n ingrypings is die voorsiening van al die voorgeskrewe handboeke en leermateriaal. Dit vereis ook dat onderwysers deeglik opgelei moet wees in die aanwending van handboeke. Handboeke is ‘n goeie bron vir tuiswerkopdragte en ouers behoort riglyne te kry hoe om leerlinge daarmee te help. Dit beteken ook daar moet volgehoue kommunikasie met die ouers wees en tuisbesoeke is nie uitgesluit nie.

Handboeke en onderrigmateriaal is egter duur en die koste kan slegs geregverdig word deur die volgehoue, korrekte en effektiewe gebruik daarvan. Kostes kan egter besnoei word deur ‘n handboek vir elke twee leerlinge aan te koop. Dit kom egter nie sonder probleme nie.

‘n Wenner, na my mening, is die opskerping van bestuursvaardighede. Die ministerie behoort op ‘n volgehoue basis indiensopleiding te voorsien aan skool- en departementshoofde. Skoolbestuurders behoort gedurig blootgestel te word aan bestuursprosesse soos delegering, toesighouding, monitering, evaluering en ondersteuning. Hulle moet gedurig kennis neem van resente navorsing en moderne modelle. Hulle moet ook aangespoor word om hulself verder te bekwaam.

Skoolbestuurders mag nie stagneer nie; hulle moet slim bestuurders word. Ook die opleiding is egter baie duur.

Alle intervensies moet voortdurend ge-evalueer word, anders het dit geen waarde nie.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!