Godfrey Kleinhans
Godfrey Kleinhans

Onderwys - Werk vir Afrika

Godfrey Kleinhans
Verlede week se rubriek het gehandel oor onderwysers in die VSA se reaksie op die Covid-19-pandemie.

As veiligheidsmaatreël teen die virus is daar dikwels die afgelope twee jaar besluit om skole te sluit. Leerlinge is huis toe gestuur met die verwagting dat hulle toegang sou hê tot internet, rekenaars, slimfone, data en dies meer.

Daar is ook aanvaar dat kontak met hulle moontlik sou wees, byvoorbeeld deur middel van Zoom. Meer ouers in die VSA is ook, anders as hier, vanweë hulle hoër geletterdheidsvlakke by magte om kinders tuis te help.

Vergelykings tussen die verskillende lande se reaksie op Covid-19 is moeilik. Verskille mag dalk net te groot wees.

Die ontwikkelende wêreld is nie net geografies van die ontwikkelde VSA, Europa en gelyke wêrelddele verwyderd nie, maar ook wat ontwikkeling en nasionale inkomste betref. Afrika word geweldig geteister deur armoede en beskik oor baie klein hoër- en middelinkomstegroepe en ‘n baie lae geletterdheidsvlak. Boonop is die Afrika-bevolking steeds besig om teen ‘n stewige pas te groei.

Onderwysgemeenskappe moet klaarkom met groeiende skoolpopulasies en krimpende begrotings; die agterstande met betrekking tot klaskamers, ablusiegeriewe, biblioteke en spesialiteitsgeriewe kan eenvoudig nie uitgewis word nie. Die toelatingskoers oorskry die konstruksiekoers by verre.

Die pandemie het Afrika hard geslaan. Unesco se projeksies dui aan dat tientalle miljoene leerlinge, so lank as wat die pandemie duur, voortydig die skool sal verlaat; vir goed. Die geskatte uitvalsyfer in Suid-Afrika staan nou al op 750 000.

Leer-armoede (learning poverty) duur ook onverpoos voort. Die Wêreldbank en Unesco wys daarop dat 85% van laerskoolleerlinge teen die ouderdom van tien nie ordentlik kan lees nie.

Afrika-leiers kan hierdie toedrag van sake laat voortgaan en sien hoe enige vordering van die afgelope jare in die niet verdwyn of indringend ingryp. Maar kom ons hoor wat Afrika se mense sê.

Een ouer van die oostelike dele in die Kongo vertel dat haar kind niks geleer het tydens die sluiting van skole nie. Sy (die kind) het angstig gewag op die heropening van die skool.

Net so is ‘n ma van Noord-Kivu in die Kongo sonder hoop. Volgens haar het die kind te veel verloor.

‘n Sestienjarige leerling, ook van die Kongo, vertel dat sy geen onderrig ontvang het en geen kontak met haar onderwysers gehad het terwyl die skole gesluit was nie.

‘n Direkteur van Madagaskar erken dat geen vorm van onderrig daar plaasgevind het nie.

In Zimbabwe het die hoof van een skool slegs ‘n opdrag aan alle leerlinge gerig: leer op julle eie. (Ken ons almal nie hierdie opdrag wanneer onderwyers afwesig is nie?)

In sommige lande het onderwysers, net soos die kinders, eenvoudig verdwyn en nie na die heropening van skole teruggekeer nie. Die aanpassing van jaarlikse skoolroosters het ‘n onsekerheid in die landelike gebiede gelaat.

Soms is skoolprogramme in tandem met die oesseisoen. Leerlinge word dan in die oestyd aangewend om die oes in te bring. Dit is ‘n baie koste-effektiewe praktyk aangesien ouers nie werkers in diens hoef te neem nie. Waar dit nie die geval is nie, het dit tot vroeë skoolverlating bygedra.

Baie huishoudings het verkies om beskikbare geld op seuns eerder as dogters uit te gee. Dogters moes in baie gevalle omsien na die jonger sibbe.

Die grootste mistasting in Afrika was die verwagting dat alle huishoudings by tuis- en virtuele onderrig sou kon inval.

Hier is een voorbeeld uit Nigerië: ‘n skoonmaker by ‘n universiteit het haar werk verloor en kon weens haar geletterdheidsvlak nie haar kind tuis help nie. Sy het ook nie geld vir data en ander toebehore gehad nie. Haar kind het by die huis gesit en niks gedoen nie.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer