Onderwys – Werksgeleenthede vir leerlinge
Ons spoed weer eens af op die einde van die skooljaar en dit sal interessant wees om ’n stukkie navorsing te doen oor hoe leerlinge hul vakansies deurbring.
Sommige vergesel seker die ouers na die see of ’n wildtuin terwyl ander tyd by familie deurbring. Hoe en waar kinders hul vakansies deurbring, sal natuurlik ook daarvan afhang van hoe “diep” die ouers se sakke is. Sommige moet maar met “Jan Tuisbly se karretjie ry” en daar is baie take rondom en in die huis wat gedoen moet word; hierdie take kan baie raak as ma en pa nog boonop werk.
Vandag loop ek drie skoolmeisies raak wat tans besig is met hulle eindeksamens; nee, hulle kan nie veel oor die eksamens sê nie en nee, hulle het geen benul oor wat hulle gedurende die vakansie gaan doen nie.
Seker maar by die huis lê en “chill”, het een opgemerk. Vakansies is ’n stresvrye tyd vir kinders en baie ouers is van mening hulle moet dit geniet; weer eens hang dit af van die finansiële vermoë van die ouers. Vir ander kan die vakansie nie gou genoeg tot ’n einde kom nie. Die “moeilike” kinders is tog die onderwysers se “verantwoordelikheid”. Hier word darem lekker gespeel met die toepassing van die in loco parentis-leerstuk.
As skoolhoof het ek ’n paar keer probeer om vakansiewerk vir leerlinge te kry. Ek was nie baie suksesvol hiermee nie; hulle het nie belanggestel nie of die geleenthede was maar skraps. Ek onthou wel dat ’n oudkollega sy seun een Desembervakansie agter die vee gesit het. Hy het ’n veepos in die kommunale gebied gehad en sy seun moes in ’n karavaan woon. Die outjie was donker, maar ná die vakansie het hy nóg donkerder by die skool opgedaag; sy vel het behoorlik les opgesê in die Namibiese son. Hulle het die storie aan my vertel met groot genoegdoening.
Vir my, so ook vir twee van my broers, was dit ’n absolute voorreg om gedurende vakansies en oor naweke te werk. In my laerskooljare was ek die “stuurjonge” vir my ma en sommige van die buurvroue asook vir die predikant. So het ek my bioskoopgeld verdien. Ek het ook by ’n plaaswinkeltjie net buite die dorp gewerk en in my hoërskooljare by ’n padkafee. Gedurende my universiteitsjare het ek tydens die lang vakansies by die Volkswagen- en Good Year-fabrieke op Uitenhage gewerk. My een broer het in sy hoërskool- en kollegejare by die “China” gewerk terwyl die ander een ook ’n paar “joppies’ gehad het.
Hierdie gewerkery het nie altyd so lekker geëindig nie. Ek is uit my werkie by die plaaswinkeltjie geskinder terwyl my een broer eendag met ’n ongestelde maag by die huis opgedaag het. Hy het in die “Ou Miesies” se vrugtetuin gewerk en te veel van die ryp vrugte geëet. My ma het min simpatie gehad, want ons loop en “verhuur” ons mos self. By ’n ander geleentheid is hy en ’n vriend summier deur hul werkgewer afgedank omdat hulle met die se bakkie wou ry.
Hierdie tipe werksgeleenthede hou geweldig baie voordele vir kinders in. Hulle leer die nut van arbeid asook om hulle eie sakgeld te verdien. Hulle leer om pligsgetrou te wees en dat ’n mens betyds vir diens moet opdaag.
Hulle leer ook om self in sommige van hul behoeftes te voorsien en om tot die huishouding by te dra. Daar is natuurlik een ernstige nadeel en dit is uitbuiting. Ek het, terwyl ek op hoërskool was, tydens twee geleenthede as handlanger gewerk waarvoor ek ’n paar ou skoene, ’n stukkende kledingstuk en ’n klompie silwer stukke ontvang het; die werkgewers was onderwysers. Dit is hier waar die ouers betrokke moet raak om die kinders te beskerm. – [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie