• Tuisblad
  • Rubrieke
  • Onderwys – Geweldlose skoolpersele in gewelddadige omgewings
Godfrey Kleinhans
Godfrey Kleinhans

Onderwys – Geweldlose skoolpersele in gewelddadige omgewings

Ná die verbod op lyfstraf in Namibië ingestel is en die bevestiging daarvan deur die hoërhof, sou ’n mens aanvaar dat dit nie meer sou voorkom nie.

Die idee van “latvrye”-skole het stadig deel van skool- en klaskamerbestuur geword. Maar toe nie! ’n Onderwyser, Petrus Ndeulita, straf ’n leerder deur hom te verplig om ’n stoel vir ’n uur lank omhoog bo sy kop te hou. Dit het in 2021 gebeur en hy is nou skuldig bevind aan die oortreding van die verbod en permanent uit die professie geskors. Twee weke gelede is ene Indileni Hashali in hegtenis geneem nadat sy na bewering ’n graad 3-leerling aangerand het. Onderwysers in daai omgewing is vies oor die skorsing van Ndeulita en dreig nou met allerhande aksies indien die skorsing nie teruggetrek word nie. Maar, meer in ’n latere aflewering hieroor.

Daar is egter ’n hele paar vrae en onduidelikhede wat om antwoorde skree! Die onderwysers wil weet waarom die ergste vorm van straf toegepas is terwyl daar nog vier ander opsies is wat gevolg kon word. (Sien ook my artikel oor die toepassing van regsreëls en empatie).

Tweedens, na aanleiding van die adjunkminister Dienda se verbasende opmerking, is dit duidelik dat daar nie algehele duidelikheid is oor wat lyfstraf nou eintlik is nie. Verder dra diegene, wat lyfstraf bybels regverdig, by tot die onduidelikheid en skep ’n Babelse verwarring.

Laastens, is dit verder ontstellend om via TUN te verneem dat onderwysers nie veilig in hul werksomgewing is nie. Dit is ’n aspek waarna daar beslis gekyk moet word.

Ons het nou vir jare geweld teen leerders op skoolpersele beveg, maar hoe veilig is ons onderwysers werklik teen misdadige leerders? Is dit moontlik om geweldlose skoolpersele te skep met leerders en onderwysers uit gewelddadige omgewings? Ek kon geen navorsing oor leerling-geweld op onderwysers in Namibië vind nie, maar in Suid-Afrika het die onderwerp al heelwat aandag gekry. Maar, ons kyk eers wat anderkant die oseane aangaan.

’n Studie in Wes-Australië toon dat 8 500 leerders wat hulle skuldig gemaak het aan een of ander vorm van geweld op onderwysers, in 2017 geskors is. In die VSA het die aanvalle op onderwysers gestyg van 49% gedurende die Covid-pandemie tot 57% na die pandemie. ’n Ander studie toon dat onderwysers (33%), ouers van leerders (29%) en onderwysadministrateurs (37%) deur leerders gedreig of geteister is. Veertien present van onderwysers is fisiek deur leerders aangerand.

In die Verenigde Koninkryk lyk dit nie beter nie. ’n BBC opname toon dat 20% van onderwysers deur leerders alreeds in hierdie jaar aangerand is. ’n Opname deur ’n onderwysers-unie in Skotland toon dat 40% van onderwysers in die vorige 12 maande deur leerders aangerand is. Die syfers vir Wallis en Noord-Ierland is nie beter nie. Onderwysers word met water en meubels gegooi, gebyt, geskop en met die vuiste getakel. Daar word ook op hulle gespuug en hulle word op vele maniere beledig.

Notas met kru en beledigende opmerkings word ongemerk op hul tafels gelaat. Die ergste is dat bendes deel van hierdie “veldtog” is en onderwysers word gedreig met,”Ek sal jou by die huis of op straat kry”. En, wanneer hierdie goed gebeur lag die ander en word video’s geneem.

In ons buurland gaan dit nie beter nie en City Press rapporteer dat dit besig is om toe te neem. Volgens die National Survey of School Violence was die gevalle van geweld op onderwysers 28,7% in die Westelike Provinsie, 25,2% in Limpopo en 13,2% in die Vrystaat in 2012. Twintig present van onderwysers in Suid-Afrika glo dat skole plekke van geweld is. Navorsers is oortuig dat hierdie tipe van geweld geaktiveer word deur onregverdige behandeling deur onderwysers, frustrasies, onnadenkende skoolreëls, swak skool- en klaskamerbestuur; om ’n paar te noem.

Baie leerders kom uit gewelddadige huise en buurtes waar bendes regeer. Dit veroorsaak hoë vlakke van angs by onderwysers, sosiale isolasie en eensaamheid, senuweeagtigheid, allerlei stressindrome, siektes en gedurige moegheid. Hulle lewer nie hul beste nie en verlaat die professie. Is dit moontlik om geweldlose skoolpersele te skep terwyl die voedingsbronne gewelddadige omgewings is? (Gesteun op navorsing gemelde lande)

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!