No Image Caption

Onderwys – Hoop en ’n Krismiskoek

Mandy Rittmann
Kersfees wek ’n nostalgiese terugblik op my vêrre verlede. Ek hunker terug na my kinderjare en die uitsien na nuwe klere, ’n lekker Kersmaal, geskenke, gemmerbier en ’n Krismiskoek vol sikspense.

Ja, my ma was die meesterbrouer van gemmerbier in die buurt en sy kon ’n Krismiskoek met sikspense bak soos min. Soms was die nuwe klere nie daar nie en het Vader Krismis nie opgedaag nie, maar aan lekker kos en gemmerbier was daar nooit ’n tekort nie. En, die Krismiskoek met die sikspense was altyd daar. En so het ons die nuwe jaar ingegaan; vol magies en ’n nuwe skoolstanderd wat op ons gewag het; vol verwagting en afwagting. En, die meeste van ons (glo ek) het die toekoms ingewandel met hoop, waarvan Paulus praat. Die HOOP wat staande bly in alliansie met GELOOF en LIEFDE. Die HOOP wat nooit beskaam nie!

Ons het so pas ons presidensiële en Nasionale Vergadering-verkiesings gehad. Ons het gaan stem, nie net omdat dit die regte ding is om te doen nie, maar omdat ons oortuig is van die pro-sosiale impak daarvan. Dit is die meganisme in die demokrasie wat ons gebruik om ’n verandering in die ordening van ons samelewing af te dwing.

Verkiesings het die potensiaal om tot die geboorte van nuwe dinge te lei; dit gee toekomshoop. Simeon, toe hy die Kindjie in sy arms geneem het, het gebid: “Here laat U dienaar nou in vrede gaan volgens U woord, omdat my oë die Verlossing gesien het.”

Miskien bied verkiesings juis daardie versekering dat verlossing van ons aardse problematieke bestaan op pad is. Maar, Simeon spreek ook ’n verskriklike profesie uit: “Kyk, hierdie kindjie is bestem tot ’n val en opstaan van baie in Israel.”

Dan dwing dit my gedagtes na die konflikte in die Midde-Ooste, Ethiopië, Soedan, Sirië en die oorlog tussen Oekraïne en Rusland. Infrastruktuur kan weer opgebou word en die wêreld sal regstaan met geld, kundigheid en ander vorme van hulp. Mense sal tot aanvaarding kom met die dood van hul geliefdes.

Maar, derduisende kinders se toekoms is nie net daarmee heen nie; baie sal die toekoms vermink, gestremd en wees moet ingaan. Hoe gaan hulle toekoms lyk in ’n wêreld sonder liefde en empatie wat oorloop van haat en nyd. In ons eie konteks, veral ná die verkiesing, sal die versorging van die armes beter wees? Sal ons, wanneer ons na die glorieryke hoofkantoor van die regerende party in Windhoek kyk, omdraai en skaam kry oor die vervalle toestand van die Katutura-hospitaal? Gaan ons werklike pogings aanwend om onderwys en gesondheid in die nuwe jaar te verbeter? Sal die onregmatige uitgawes van staatsgeld verminder en minder hande gryp na “bruin koeverte” gevul met omkoopgeld onder die tafel?

Maar, ons mag nooit hoop verloor nie! Martin Luther King jr. sal altyd onthou word vir sy artikulasie van gebrekkige hoop: “Where there is no hope, the people perish.” Kom ons herinner ons hieraan en ook wat die hoofkarakter, Andy Dufresne, in Shawshank Redemption opmerk: “Remember. Hope is a good thing, maybe the best of things, and no good thing ever dies.”

Ek hoop dat die oorloë in die nuwe jaar spoedig tot ’n einde sal kom en dat vrede sal heers. Ek hoop dat die mishandeling van vroue en kinders uit alle oordele veroordeel word en dat niemand sal toelaat dat die staatsbegrotings op nasionale, streek- en plaaslike vlakke die “speelterreine” van diewe en korruptes word nie. Dat diegene in beheer daadwerklike pogings sal aanwend om armoede te beperk, met woord en daad. Dat niemand koud en honger sal gaan slaap nie. Dat die dwelmsmokkelaars in die tronke sal beland en die sleutels weggegooi sal word. Dat die wet op selfdegeslaghuwelik in die kantoor van die president ongeteken sal bly, die blaaie sal vergeel en stof opgaar. En, dat onderwys, veral op skool- en streekvlak, uit die onbevoegdes se hande geneem sal word.

En, aan die wat nie gehoor wil gee nie, is dit my wens dat Breyten Breytenbach se “sluwe eende op hul grafte in die reën sal k**”. – [email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!