No Image Caption

Onderwys – Konflik, noodsituasies en kurrikula

Die jaar 2024 was uiters gebeurtenisvol, vol nuus gepak; nie altyd nuus waarna ’n mens uitgesien het nie.

Die oorloë in Sirië, Soedan, Mianmar, die Midde-Ooste en die een tussen Rusland en Oekraïne het die wêreld vasgevang voor die televisie en Google.

Die nuus oor die oorloë in die Midde-Ooste en die een tussen Rusland en Oekraïne het natuurlik die ander oorheers. Dit wil voorkom asof die vernietiging van infrastruktuur, die dood van burgerlikes en diplomatieke pogings nie oral dieselfde nuuswaarde het nie. In al die konflikte is daar duidelike tekens van nodige internasionale ingrypings; soms militêr, soms diplomatiek, soms humanitêr. Soms was hierdie ingrypings niks minder as ongevraagde en ongenooide inmenging nie. Mianmar (die voormalige Birma) het sedert sy skeiding van Brittanje in 1941, baie min vrede geken. Die redes gaan oor grond, godsdiens en botsende sienings oor nasionalisme. In 2024 is 5 350 burgerlikes dood.

Soedan is vir jare die “speelveld” van oorlogsugtiges. Die oorsake kan gevind word in militarisme (warmongers), die vorming van alliansies, imperialisme en jingoïsme (oordrewe nasionalisme). Tussen April 2023 en Junie 2024 is 61 000 mense in Soedan dood terwyl 11 miljoen mense uit hul woongebiede moes vlug. Baie van die sterftes is nie die gevolg van bom- of vuurwapenwonde nie, maar hou direk verband met ongesonde toestande en siektes wat heers in tye van konflik. En, so kan die verhaal aangaan!

Die wêreld het hierdie jaar ook ’n reeks nasionale verkiesings gesien. Verkiesings is oral in die wêreld gehou met die opspraakwekkendste een in die VSA. Hier het die Goebbels-teorie en die leuen geseëvier.

Die Mosambiekse burgers het vinnig hul ontevredenheid getoon met die uitslag terwyl die verloorders (vorige regerende party) in Botswana met grasie die toneel verlaat het.

Die ANC in ons buurland, lek nog sy wonde. Hierby ons het die regerende party se meerderheid in die Nasionale Vergadering verder gekrimp en nou dreig van die verloorders die Verkiesingskommissie met ’n hofaansoek. Ja, die kommissie kon die verkiesing beter bestuur het, maar ons hoop dat die fokus sal val op ’n doeltreffende regering in die nuwe jaar.

Die vraag nou is, hoe berei onderwys die kinders voor om hierdie situasies in die toekoms te hanteer? Dit lyk dan nou of oorlog en burgeroorlog deel van ons aardse bestaan geword het.

Dit kom voor asof die wêreldleiers tans nie oor die vermoë beskik om oorloë te voorkom en oor die diplomatieke vermoë beskik om dit te stop nie. Het dit nie tyd geword dat die onderwysstelsel besin oor hoe om leiers vir dergelike kritieke situasies voor te berei nie? Nou praat ek nie van bepaalde gedeeltes van geskiedenis- en burgerlike leer-leerplanne nie; Ek dink dat dit tyd geword het om ’n spesifieke vak daarvoor te skep. ’n Vak wat verpligtend is vanaf graad een tot en met graad 12 en dat leerders ’n eksamen aan die einde van elke skooljaar daarin moet aflê.

So ’n vak moet begin by die aanhef van die Grondwet en die regte; hoeveel leerders in ons skole is vertroud met die aanhef van ons Grondwet? Dis tyd dat ons kinders leer van die belangrikheid van die verskillende vorme van nasionalisme. Dat hulle leer dat nasionalisme verdring word deur jingoïsme, eensydige kulturalisme, stamgebondenheid, godsdiensonverdraagsaamheid en taalbehebtheid. Hulle moet leer van menseregte (soos vervat in die Grondwet) burgerleer, landsadministrasie, politieke partye en verkiesings, die parlement, nieregeringsorganisasies en dienslewering.

Verder moet hulle leer van die verskriklike gevolge van oorloë, die waarde van vrede en hoe om in noodsituasies op te tree. En natuurlik sal ’n bietjie toekomsleer nie kwaad doen nie. Hierdie lys is nie uitgeput nie, maar dit laat ek eers in die bekwame hande van die kurrikulum-mense.

En, dis ook belangrik dat gematigde godsdiensleiers ook na die tafel kom. Ons het leiers nodig wat vrede sal nastreef, wat hierdie wêreld sal red van chaos en vernietiging.

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer