No Image Caption

Onderwys – Sy genade is vir ons genoeg

In sy boeke aan die gemeente Gelasië en Korinte, maak Paulus melding van sy siektetoestand wat sy kragte verminder en ’n negatiewe impak op die uitvoering van sy pligte het.

Dit is as gevolg hiervan dat hy God vra om hom van die “doring” in sy vlees te bevry. Wat Paulus presies makeer het, weet ons nie; teoloë wonder nog steeds daaroor. Maar, naas sy gesondheidsprobleem was daar ook ’n ander paar “dorings’ wat hom gepla het, naamlik beledigings, vervolging, afranseling en aanhouding. God se antwoord aan hom was: “My genade is vir jou genoeg.”

Ten spyte sy gesondheids- en ander probleme het hy onvermoeid met die verspreiding van die evangelie en stigting van gemeentes voortgegaan. Volgens die Bybel het hy dit suksesvol gedoen ten spyte van sy gebreke.

Die boodskap uit die Bybelse narratief is baie duidelik; maak die beste met wat jy het. Ek dink dat hierdie boodskap ook vir die onderwysministerie waarde het. Ons het ’n onderwysministerie met ’n begroting van N$18,4 miljard wat ’n reuse 21,9% van die totale begroting uitmaak. Miskien nie genoeg nie, maar die persentasie wat aan onderwys toegestaan word, is ietwat meer as die internasionale standaard. Ons het meer as 28 000 klaskamers, 620 laboratoria, 541 rekenaarkamers, 204 werkswinkels, 718 bronnesentrums, 345 skoolsale en 4 254 behuisingseenhede; alhoewel nie genoeg en goed toegerus nie en almal is ook nie in ’n goeie toestand nie. Alhoewel daar nog ruimte vir verbetering is, beskik die meeste skole vandag oor administratiewe geriewe, ablusiegeriewe, gepypte water, elektrisiteit en telefone. Daar is meer as 32 000 onderwysers in die diens van die ministerie, alhoewel almal nie toepaslik gekwalifiseerd of geskik geplaas is nie.

Die onderwyser-leerling-ratio is tans rondom 26; miskien nie die voordeligste nie, maar definitief onder die bestes in Afrika. Ons beskik oor ’n groot skoolouerpopulasie wat al die jare getoon het dat daar op hulle gesteun kan word, alhoewel die betrokkenheid soms beter kan wees. Ons het ’n betekenisvolle aantal welwillende besighede en filantrope wat graag skole ondersteun, alhoewel hierdie betrokkenheid nie altyd optimaal benut of bestuur word nie. Ons het implementeerbare onderwysbeleide, mediumtermyn-ontwikkelingsplanne en vele ander getoetse opsies, maar kultuur, tradisies (manier van doen) en teenkanting teen werkswyses uit die verlede staan soms in die weg van suksesvolle implementering. Gedurende die Covid-pandemie is skole versoek om hul leerlingpopulasies in twee groepe te deel en dat elke groep elke alternatiewe dag skool moes bywoon. Dit beteken dat elke groep slegs vyf dae skool in tien dae bygewoon het. Die onmiddellike gevolg was ’n geweldige verlies aan onderrig- en leertyd. Die beter opsie was natuurlik die pelotonmodel aangesien meer onderrig- en leertyd behoue sou bly. Daar is geglo dat die leerders verlore tyd by die huis sou opmaak; op hul eie met rekenaartegnologie en selfone terwyl hul ouers by die werk was. Ek dink ons pluk nou die wrange vrugte van daardie kortsigtige besluit. Laastens, van ons streke, soos die twee Suide-streke, is duidelik in die moeilikheid. Ons sit met ’n groot aantal afgetredenes met ’n geweldige poel van ervaring en kundigheid; hulle is bereid om sukkelende skole te help. Ek het nog nie gehoor dat daar op hul nommers gedruk word nie; altans nie in my streek nie.

Dit is tyd dat ons die omvang van ons “genade” besef en begin werk met wat ons het. Ons kla met die spreekwoordelike witbrood onder die arm. Ons het ’n nuwe minister, ’n nuwe adjunk en ’n nuwe toekoms wat wink. Kom ons pak hierdie nuwe tydvak aan met die leuse,”Ons kan, want wat ons het is genoeg”.

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer