Godfrey Kleinhans (002) Logo
Godfrey Kleinhans (002) Logo

Onderwysbemarking

Mandy Rittmann
Nog ’n Kersfees en nog ’n nuwe jaar wat op ons wag. Die jaar 2023 was nie juis maklik nie. Alle hel het in die Oekraïne en Midde-Ooste losgebars. Die twee oorloë het der duisende lewens opgeëis - soldate, burgelikes en kinders. Gesinslewens is ontwrig en die skoolloopbane van leerders is skielik beëindig. Of die oorloë môre of later tot ’n einde kom, onderwys sal hier lank in ’n krisis verkeer!

Ons is nie in ’n staat van oorlog nie, maar hoe lyk ons opset? Ons sukkel nou al lank om die prestasiekurwe van ons onderwys in ’n opwaartse trajek te kry, sonder veel sukses. Dis ook seker nie moeilik om ons verwagtinge vir die stelsel te verwoord nie. Ons is tog vertroud met die probleme en gebreke, lees maar net vandag (Dinsdag) se SMS-kolom. Het die tyd miskien nie aangebreek om ons skole beter te bemark nie? Dit is nie iets wat ons in die openbare sektor juis ken nie. Ons, as gevolg van die waardes van ons “hogere roeping”, skram weg van besigheidsbegrippe soos onder andere beheer, winsbejag, produksie en produkevaleuring. Kom ons verklaar die jaar 2024 die Jaar van Onderwysbemarking. Ek is daarvan oortuig dat dit ons net moontlik deur die drif kan help.

Wat is die moontlike doelwitte wat ons met so ’n bemarkingstrategie wil bereik? Eerstens kan ons, ons skool duidelik onder die aandag van ouers, besighede, uitmuntende presteerdes en ervare en goed gekwalifiseerde onderwysers bring. Deur so ’n bekendstellingstrategie kan ons die bedieningsgebied van die skool vergroot. Tweedens sal so ’n strategie groter belangstelling in die skool genereer. Derdens kan die verwesenliking van die bogenoemde doelwitte 'n positiewe invloed op skoolbywoning, retensie en vloei van leerlinge deur die stelsel hê. Vierdens kan dit ook 'n positiewe invloed op die finansiële vermoë van die skool en die onderhoud van geriewe hê. Hoe kan dit gedoen word?

Eerstens kan die skool deur advertensies en aankondigings duidelik onder die gemeenskap (ouers, besighede, kerkgenootskappe, leerders, onderwysers, alumni en oudonderwysers) se aandag gebring word. Hiervoor kan nuusbriewe, skoolkoerante, brosjures, sosiale media en webblaaie aangewend word. Whatsapp-groepe word deesdae suksesvol aangewend en is kosteloos en vinnig. ’n Jaarboek is ook ’n uitstekende publikasie om die gemeenskap in te lig oor die aktiwiteite van die skool van ’n spesifieke jaar. Tweedens kan gebruik gemaak word van “persoonlike verkope”. Dit beteken die skoolhoof het meer direkte kontak met individuele ouers en leerlinge. Die skool kan ook ’n program ontwerp waarvolgens onderwysers huisbesoeke kan doen, ’n uitstekende strategie om uitdagings van leerders aan te spreek. Die tipe inisiatiewe kan ook gesprekke met besighede, nie-regeringsorganisasies, alumni, oudonderwysers, oudskoolhoofde en kerklui insluit. In die derde plek kan die skool sy verhouding met die skoolouers en breë gemeenskap verbeter. Hier kan mens dink aan gereelde ouervergaderings, skoolbasaars en funksies wat die breë gemeenskap betrek. Die dienste van ouers kan ook bekom word vir atletiekbyeenskomste en basaars. Skoolouers kan ook betrek word by saalbyeenkomste en vir toesighouding. Daar is egter twee voorwaardes. Eerstens moet hierdie strategieë inklusief wees, niemand moet uitgesluit word nie. Tweedens moet die direkte en indirekte kommunikasiekanale wyd oop wees. Nou is dit ook tyd vir my om u vir hierdie jaar te groet. Ek wens u ’n aangename kersfees en voorspoedige 2024 toe. Die Here seën.

([email protected])

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer