No Image Caption

Onderwysrubriek – Die status van GIPAN

In hierdie week se rubriek wil ek die fokus verskuif na die kommunikasie tussen GIPF en GIPAN. Myns insiens het GIPAN in 2023 ’n transformasie ondergaan; van ’n “sosiale klub” bestaande uit “tevrede” ontvangers van pensioenvoordele na ’n organisasie wat hom aktief wil beywer vir ’n beter bedeling vir sy lede. GIPAN het uiteindelik tuisgekom!

Organisasies word gewoonlik in die lewe geroep deur mense met gedeelte belangstellings en behoeftes; die behoefte aan die nastrewing en realisering van bepaalde doelwitte bring hulle op ’n formele wyse bymekaar. Tans soos dit vir my lyk en volgens die boodskap van GIPAN, is die verhouding met GIPF alles behalwe kosher. Ek het twee stukke van die president van GIPAN ontvang waarop ek wil fokus. Die eerste is ’n toespraak van die waarnemende uitvoerende hoof van GIPF, mnr. Amutenya. Uit sy toespraak is dit duidelik dat die fonds GIPAN, as ’n organisasie bestaande uit lede van die fonds, erken. Maar, sy voorstel dat GIPAN vir sy lede geleenthede wat met hul fisieke en geestelike gesondheid en sosiale verkeer verband hou moet skep, bring my tot die gevolgtrekking dat die fonds GIPAN niks anders as ’n “sosiale klub” sien nie. Verder noem hy verder die Raad van Trustees is verantwoordelik vir toesighouding oor die reëls en dat enige strukturele veranderinge net deur die hoofborg van die fonds, naamlik die regering, aangebring kan word. Verder noem hy ook dat die voordele van die lede bepaal word deur tendense in die markte. Hiermee kan niemand verskil nie; ek sou egter meer tevrede gevoel het as hy die deur vir verdere onderhandeling ’n bietjie groter oop gelaat het.

Die tweede kommunikasiestuk is ’n skrywe van die fonds aan GIPAN nadat laasgenoemde versoeke om hulp aan die fonds voorgelê het. GIPAN het hulp gevra met die verkryging van baniere, die skep van ’n webblad, die aankoop van ameublement en om ’n vergadering met die premier te reël. Die response op die eerste drie versoeke (baniere, webblad, ameublement) was negatief en dat hierdie tipe van hulpverlening nie binne die begrotingsraamwerk van die fonds val nie. Hiermee gaan ek nie stry nie. Dit sal nie wys wees dat die een organisasie wat aangestel is as bewaarder van die pensioenbates van lede wat oor die jare opgebou is, daaruit uitgawes buite die begrotingsraamwerk aangaan nie.

My probleem is die skrywe skep die indruk dat hierdie tipe uitgawes buite die mandaat van GIPF val en dat die saak nou as afgehandel beskou word. GIPF doen ook aan die hand dat GIPAN ander weë kan ondersoek om fondse te bekom om hul aktiwiteite finansieel te kan ondersteun.

Dit lyk of GIPAN, ná sy transformasie, en GIPF nie op ’n eindbestemming van eenstemmigheid afstuur nie. ’n Mens voel genoop om ’n paar sake op te klaar; hiervoor het ek die president van die organisasie, Josef Pieters, genader. GIPAN was voor 2023 niks anders as ’n “sosiale klub” vir lede nie; so het ek dit nog altyd verstaan. Elke lid kon besluit of hy of sy aan die sosiale aktiwiteite van hierdie “klub” wou deelneem. Die lede het weinig bymekaargekom, ek glo nie daar was ’n grondwet nie, en is jaarliks op die koste van die fonds met ’n uitstappie getrakteer. Laat verlede jaar is GIPAN omskep in ’n organisasie. Streekbesture is verkies en ’n grondwet is geskryf. Die organisasie het die mandaat om te stry vir ’n beter bedeling vir sy lede deur middel van gesprekvoering en onderhandeling.

Volgens die stukke tot my beskikking is GIPF deeglik bewus van hierdie verwikkelinge. ’n Organisasie het ook ander behoeftes soos kantoorruimte, ameublement, ’n webtuiste wat broodnodig in hierdie tyd is en ’n kommunikasie-weg om gereeld met die moederliggame in gesprek te tree. Deure moet oopgehou word en daar moet gepraat word.

Ons praat oor die belang en behoeftes van senior burgers en miskien sal dit GIPF loon om te luister na die woorde van die joernalis Joan van Zyl op Nagkantoor se Facebookblad: “Ek kies Liefde. Ek kies Insluiting. Ek kies Empatie. Deernis. Gelykheid. Waardigheid. Diversiteit. Ek kies die Gemeenskap. Mededoë. Integriteit. Eerlikheid. Respek. Ek kies Geregtigheid. Ek kies Feite. Vrede. Ek kies Menslikheid.” – [email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-01-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 30° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 21° | 29° Ruacana: 20° | 33° Tsumeb: 18° | 28° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 19° | 29° Windhoek: 19° | 28° Gobabis: 20° | 25° Henties Bay: 17° | 21° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 20° | 29° Mariental: 20° | 31° Keetmanshoop: 19° | 32° Aranos: 20° | 29° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 16° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 29° Lubumbashi: 18° | 20° Mbabane: 19° | 30° Maseru: 17° | 19° Antananarivo: 14° | 29° Lilongwe: 19° | 24° Maputo: 26° | 40° Windhoek: 19° | 28° Cape Town: 18° | 22° Durban: 22° | 27° Johannesburg: 18° | 24° Dar es Salaam: 25° | 29° Lusaka: 18° | 24° Harare: 17° | 22° #REF! #REF!