Iréne-Mari van der Walt
Iréne-Mari van der Walt

Ons ewige stryd met die skaal

Iréne-Mari van der Walt
Ek was nog altyd ’n redelike mollige meisie.

Soos wat ek op my profiel-kiekie lyk, is seker die maerste wat ek nog ooit was. Toe ek eers op daardie stadium gekom het, was my geliefdes se aanmoediging om te eet nie ’n kompliment vir my nie.

Ek het nog altyd gedink as ek volgens die Afrikaanse tannies “te maer” kan wees, sou ek maer genoeg wees. Nou bestaan die konsep van maer genoeg nie meer nie. Daar is steeds ’n bietjie ekstra van my, maar ná twee dekades wat ek met my lyf worstel en met alles in my elke “craving” probeer wegredeneer, gee ek werklik net nie meer om of ek maer genoeg is nie.

Ek redeneer nou eerder dat die doel van my lyf is om my te dien – my bene is gemaak om my by die berge op te dra, en my arms is daar om mense vas te hou wat ek liefhet.

As ek ’n gelukkige lewe verby my laat glip omdat ek my lewe lank gewag het om maer genoeg te wees, dan was daar ook geen doel aan my lewe nie. Dan sou ek regtig net my lewe om gewag het vir dié lewe om te begin.

As ek die dag daar bo kom wil ek darem oor skandelike laatnagte kan getuig. Ek berus my eerder by ’n verskoning vir dit wat ek gedoen het as dit wat ek nié gedoen het nié – ek dink nie iemand gaan omgee oor die verskil nie, maar ek doen wel.

My kollega Kristien het gister in haar rubriek geskryf dat jy eenvoudig net na jou liggaam moet luister, en daarmee stem ek volkome saam. Ek moet bieg, ek moet ekstra mooi luister wanneer my liggaam van sjokoladekoek en vleispasteie begin praat, en dit is nie die einde van die wêreld nie.

Moet my nou nie verkeerd verstaan nie; om oorgewig te wees is glad nie gesond nie, maar selfs in daardie gevalle dink ek die beste ding wat jy vir jouself of ’n ander persoon kan doen, is om ’n pak skyfies, ’n pakkie koekies, ’n hamburger en ’n 1 liter gaskoeldrank alles op een slag te verorber.

Ek dink die vetkind sal altyd in my bly, maar eerder as om jouself te laat sleg voel daaroor (want kom ons wees eerlik, jy voel seker al klaar siek daarvan), laat jouself toe om môre beter leefstylbesluite te neem.

Ek dink Murphy het dalk iewers ’n hand in gewigsverlies, want op ’n baie agterstevoor manier was die vinnigste wat ek nog ooit gewig verloor het, toe ek opgehou het om daaraan te dink.

Mens is immers meer as jou gewig.

Geniet jou sny sjokoladekoek, en gooi jou groente toe onder die sous – dit is beter as om dit glad nie te eet nie. Die geheim is dat daar nie ’n ongesonde manier is om jou groente en vrugte te eet nie – die botter wat daarmee saamgaan mag dalk nie die beste ding vir jou gesondheid wees nie, maar as dit die blomkool in jou lyf kry, is dit wat gedoen moet word.

Geniet jou kos en hoe dit jou laat voel en bekommer jou later oor die kalorieë.

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer