No Image Caption

Ons gewelddadige geskiedenis

Tielman Van Lill
Die mensdom is op enige gegewe dag ’n rare spesie. Dit sou gaaf gewees het as ons meer aangetekende geskiedenis van die homo sapiens se doen en late tot ons beskikking gehad het as net ’n paar duisend jaar se gegewens.

Die mens se meer onlangse aangetekende geskiedenis is deurspek van onblusbare veglus, die drang om meer te besit, maglus en brutale onmenslikheid, gemeng met manipulasie en breinspoeling.

Die motiverings vir die homo sapien se gedrag is legio. ’n Hele paar duisend doktorale proefskrifte wat die gedrag probeer ontleed het, se pogings is daadwerklik futiel. Indien die brawe mans en vroue wat derduisende ure spandeer het om aan en in die mens se misterieuse brein te delf, suksesvol was, sou die mensdom tans sekerlik op ’n beter plek gewees om vir ’n paar jaar ’n draai te kom maak.

Dink nou net, met die regte diagnose en preperate kon die mensdom van die potensiële misdadiger op die regte ouderdom verlos gewees het. Met ’n paar inspuitings hier en daar, ’n salfie agter die oor of ’n paar snitte aan die breinstam en -lobbe kon dié mense totaal en al van hul afwykende persoonlikheid genees gewees het.

Daar is geen droë of nat stukkie aarde op ons planeet wat enige bloedige konflik heeltemal vrygespring het nie. Dié tipe gedrag het nie begin of geëindig waar een of ander obskure leier besluit het om sy bure of een of ander nasie ’n paar duisend kilometer ver gevange te neem nie.

Dit was en is nog steeds inherent deel van verskillende rasse en stamme op die verskillende kontinente om mekaar goedsmoeds aan te val. Die Amerikaanse burgeroorlog is maar een voorbeeld waar ’n verdeelde nasie met verskillende agendas mekaar bykans verwoes het.

Die oseane van moeder aarde dra ook die letsels van oorloë en seerowery. Die oorloglustiges kan sekerlik mal, van lotjie getik asook psigopate genoem word, wat wel die geval is.

Wat egter duidelik is, is dat psigopate totaal en al oor geen empatie, simpatie, sosiale verantwoordelikheid of gewete beskik nie. Oorlogsmisdade sluit ’n breë spektrum van dade in wat op sigself bundels sal beslaan.

Raar, maar waar. Die soort mens kry jy vandag nog in verskillende grade en vorms in die samelewing waar hulle in die werkplek, tuis, in skole, geloofsgroepe, bendes, korporatiewe wêreld, politieke partye en enige moontlik vlak opereer. Die goed verskuilde sosiopate is ewe bedrywig met hul sluwe aktiwiteite.

Hulle het min agting vir ’n ander persoon se emosies, regte of ervarings. Hulle het geen berou oor hul dade nie en deins nie terug om ander deur leuens, bedrog, manipulering of vele ander maniere te benadeel nie.

Die onlangse inval in Oekraïne was glo net ’n “spesiale militêre operasie.” Hoewel dit duidelik oorlog is, is daar sekerlik hordes met dieselfde persoonlikheid as die aggressor wat glo dis geregverdig en honderd persent aanvaarbaar. Hoe glo enige regdenkende mens die stelling dat dit net ’n “spesiale militêre operasie” was en steeds is?

Die effek van Rusland se oorlog word aan ieder en elk se eie bas gevoel. Dié moondheid beheer oor massiewe hoeveelhede aardgas en olie. Gister is berig dat Kaapstad Internasionale Lughawe net genoeg vliegtuigbrandstof (jet fuel) vir minder as ’n week het. Dis maar een van vele sektore wat gekaap word.

Waar gaan dit eindig? Dit is gebeure soos in Oekraïne wat ’n mens ontnugter en uit jou veilige kokon ruk. Wie en wat is volgende aan die beurt? Wie is die volgende psigopaat wat die wêreld gaan verkrag?

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!